Akteur van ‘Titanic’, ‘Lord of the Rings’ sterf

Die Britse akteur Bernard Hill (79). Hy is Sondag dood. (Foto: X)

Die Britse akteur Bernard Hill, waarskynlik die bekendste vir sy ondersteunende rolle in die lokettreffers Titanic en The Lord of the Rings­-trilogie, is Sondag in die ouderdom van 79 dood, het sy agent bevestig.

Hill het onder meer die rol vertolk van kaptein Edward Smith in die Oscar-bekroonde 1997-fliek Titanic en het wêreldwye erkenning gekry vir sy rol as Theoden, koning van Rohan, in twee van die drie The Lord of the Rings-flieks deur Peter Jackson.

Lou Coulson, sy agent, het die akteur se dood Sondag in die vroeë oggendure aan Britse media bevestig.

Bernard Hill as kapt. Edward Smith in ‘Titanic’. (Foto: X)

Vroeg in sy loopbaan was Hill ook te sien in die BBC se 1982-drama Boys from the Blackstuff. Dit het verskeie toekennings ontvang en word steeds hoog aangeskryf as een van die beste voorbeelde van die genre uit die spesifieke tyd.

Hill verskyn ook in die tweede reeks van die kontemporêre BBC-drama The Responder, met Martin Freeman. Dit het Sondag in die Verenigde Koninkryk begin wys.

Op sosiale media het talle akteurs, fliekaanhangers en ander rolspelers in die bedryf hulde aan Hill gebring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.