Aktiviste kleur bekende fontein in Rome swart

Dié bekende fontein staan bekend as La Barcaccia. (Foto: Barron’s)

Klimaatsaktiviste het Saterdag die water van ʼn bekende Italiaanse fontein, wat aan die voet van die Spaanse Trappe in Rome is, swart gekleur.

Die aktiviste voer aan dat die swart water ʼn “einde-van-die-wêreld-scenario” voorspel waarheen die mensdom glo op pad is.

Drie klimaatsverandering‑aktiviste van die organisasie Last Generation het Saterdag ten aanskoue van talle omstanders ʼn swart vloeistof in die 17de eeuse fontein gegooi voordat die polisie hulle van die perseel verwyder het.

Dié bekende fontein staan bekend as La Barcaccia. Die Italiaanse beeldhouer Pietro Bernini het die fontein in die vorm van ʼn boot ontwerp.

Dít, tesame met die bekende trappe wat slegs meters verder geleë is, het oor die jare heen ʼn gewilde toeristeaantreklikheid geword.

“Deur die water swart te maak word die einde van die wêreld voorspel, namate ons voortgaan om die klimaatskrisis te vererger,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

“Droogtes en hittegolwe wat afgewissel word met verwoestende vloede gaan ʼn einde aan lewe op Aarde beteken.”

Last Generation het verlede jaar voor die algemene verkiesing in Italië vreedsame, dog ontwrigtende, betogings begin hou om politici aan te moedig om klimaatsverandering een van hulle hoofprioriteite te maak.

Die jongste betoging is deel van ʼn reeks betogings oor Europa heen wat poog om die aandag op klimaatsverandering te vestig.

Aktiviste het onder meer kosprodukte soos sop, koek en kapokaartappels, asook afwasbare verf op erfenis- en kultuurterreine en op kunswerke in museums gegooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.