Ballonne dodelik vir dierelewe, maan aktiviste

(Foto: pixabay)

Dit is ʼn gewilde bykomstigheid by enigiets van kinderpartytjies tot begrafnisse, maar omgewingsaktiviste werk kliphard om bewusmaking te skep oor die gevare wat ballonne vir wilde diere, seelewe en voëls inhou.

Vrywilligers by die Alliansie vir die Groot Mere het tussen 2016 en 2018 niks minder nie as 18 000 ballonne, ballonstukkies of ballontoutjie op die oewers van die Groot Mere opgetel.

Lara O’Brien, verbonde aan die Universiteit van Michigan se Skool vir Omgewing en Volhoubaarheid, sê ʼn Australiese studie wat in Maart gepubliseer is, wys dat ballonne die grootste plastiekrisiko vir seevoëls inhou.

“Ek sien dikwels waar mense vir gesellighede van gradeplegtighede tot troues en ander feesvierings bymekaarkom, dat hulle ballonne loslaat. Hulle dink nie regtig oor wat gebeur wanneer die ballonne weer afkom nie,” het sy gesê.

Tydens ʼn jaarlikse skoonmaakprogram, het die alliansie elke keer tussen 4 400 en 7 200 ballonne of stukke ballon oor die laaste drie jaar opgetel.

Die verskil in syfers kan toegeskryf word aan die getal vrywilligers wat op ʼn spesifieke strand in ʼn spesifieke jaar betrokke was, nié omdat daar minder ballongemors was nie, het Jennifer Caddick, ʼn woordvoerder van die alliansie, gesê.

“Dis uiters kommerwekkend. Dit skets ʼn prentjie van die groter plastiekbesoedelingsprobleem wat die Groot Mere-streek, ons oseane en eintlik die hele planeet teister.”

Pamela Denmon, ʼn Amerikaanse bioloog, sê ballonne wat op strande uitspoel, is ʼn “enorme probleem”.

“Ons sal ʼn ondersoek op ʼn voël of ʼn seeskilpad of ʼn ander seedier doen, en daar sal verstrengelde ballontou regdeur sy ingewande wees,” het Denmon gesê.

Sy het gesê sy kom ook gereeld af op dooie seevoëls wat aan kragdrade hang omdat hulle aan ballontoutjies vasgehaak het.

Die Ballonraad, ʼn Amerikaanse organisasie van ballonhandelaars, verspreiders en vervaardigers, het al amper R15 miljoen bestee om wetgewing te beveg wat ballonne sal beperk.

“Ons het nog nooit die loslaat van ballonne geborg of ondersteun nie. Ons wil hê mense moet ballonne gebruik, dit geniet en dan verantwoordelik daarvan ontslae raak,” het Lorna O’Hara, verbonde aan dié raad, gesê.

Die groep is nie gekant teen ʼn verbod op die loslaat van ballonne nie, maar verkies opvoedingsprogramme wat voorstel dat alle helium-gevulde ballonne gewiggies het en bio-afbreekbare toutjies gebruik, of eerder niks nie.

Christina Trapani, ʼn vrywilliger wat strande help skoonmaak, het gesê dit is bemoedigend om te sien dat mense se gedrag oor ballonrommel begin verander.

“As jy ʼn ballon loslaat, strooi jy rommel. Jy sou tog nie ʼn klomp onopgeblaasde ballonne op die grond neergooi nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Natan ·

Stem saam, balonne is gemors. Ek het al talle male uitgediende balonne tussen my beeste se weiding gevind en selfs al op ‘n bosveldplaas met wild. Dink net wat dit in ‘n dier se pens doen. Die balonne waarna ek verwys is partytjie en weerbalonne.

Sê maar net een ·

Ek het dit al in 2012 gesê toe ‘n hoërskool “Earth Day” gevier het en blou ballonne (ironies of net gewoonweg dom?) in die lug losgelaat het, meeste mense het my gekyk asof ek nie weet waarvan ek praat nie.

Wollie ·

“Jy sal tog nie n klomp onopgeblaasde ballonne op die grond gooi nie” HAHA dis wat jy dink, jy sal nie glo hoe gereeld ek op die pad sien hoe mense rommel by hul venster uitgooi nie, en ek praat nie van appels nie, plastiese omhulsels, sakke.. dink jy hulle gaan sleg voel oor n ballonetjie

SjN ·

Hier in SA gebruik hul sommer kondome om te strooi, hul kry dit gratis by die staat en as dit nie werk nie word daar n maandelikse toelae aan vir die glipsie betaal. lekker man lekker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.