Britse koninklikes verras met foto van jongste prins op verjaardag

‘n Nuwe foto van prins Louis is Dinsdag bekendgestel. (Foto: Instagram/@princeandprincessofwales)

ʼn Nuwe foto waarin die skattige klein Britse prins Louis van oor tot oor glimlag, is Dinsdagmiddag ter viering van sy sesde verjaardag vrygestel.

Louis is die jongste kind van prins William en prinses Catherine van Wallis. Die foto is geneem deur die prinses, wat verlede maand bekend gemaak het sy het kanker.

Die BBC berig dat Kate, soos sy alombekend is, en William, wat gewoonlik al vroegoggend portretfoto’s op hul spruite se verjaardae plaas, vanjaar ʼn ander roete gevolg het.

Anders as vorige jare, waar die foto’s die vorige aand onder embargo aan die media gestuur is, het die paartjie vanjaar se portretfoto heelwat later in die dag en direk op hulle eie sosialemediaplatforms geplaas.

Koninklike aanhangers het aanvanklik aangeneem dat daar in die lig van die prinses se kankerdiagnose én die nou bekende Moedersdagfoto geen amptelike foto vandag gedeel sou word nie.

Dié Moedersdagfoto saam met haar drie spruite, prins George, prinses Charlotte en prins Louis, is verlede maand deur verskeie nuusagentskappe, insluitend Getty, van hulle stelsels verwyder omdat dit weens “redigeringsflaters” nie aan dié agentskappe se standaarde vir foto’s voldoen het nie.

ʼn Tweede foto, waar koningin Elizabeth II met van haar kleinkinders en agterkleinkinders in 2022 deur Kate afgeneem is, is kort daarna ook van Getty verwyder weens “digitale veranderinge”.

Dié foto van prinses Catherine en haar spruite sal nooit vergeet word nie. (Foto: Paul Ellis/AFP)

Geen foute is tot dusver in die sesjarige se verjaardagportretfoto opgemerk nie en gelukwense het op sosiale media ingestroom.

Maroela Media het onlangs berig prins William het verlede week sy amptelike koninklike pligte hervat toe hy ʼn voedsel-liefdadigheidsorganisasie en jeugsentrum besoek het.

Hy het ná sy vrou se kankerdiagnose aankondigingsvideo, wat tot op hede meer as ʼn honderd miljoen keer gekyk is, vir byna ʼn maand uit die openbare oog verdwyn.

Kate het in haar video gevra vir “tyd, ruimte en privaatheid” terwyl sy haar behandeling voltooi.

Bronne: BBC, Hello.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jannie ·

Baie beter dat hul eerder op hul eie amptelike blad die foto’s sit. Die media verdien nie die foto’s nie en hul moenie maak asof hul nooit ooit ‘redigering’ doen nie – hul doen dit mildelik. Kyk hoe lyk modelle op voorblaaie se gesigte!! Hul lyk soos waspoppe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.