Nog ʼn kiekie van Kate in kruisvuur

Catherine, die prinses van Wallis, tydens ‘n geleentheid in 2023. (Foto: Suzanne Plunkett/AFP)

ʼn Foto-herrie is nou ontketen nadat nóg ʼn foto van Catherine, die prinses van Wallis, deur die foto-agentskap Getty Images verwyder is.

Verteenwoordigers van Getty het vandeesweek aan verskeie internasionale media, insluitende USA Today, bevestig dat ʼn foto van wyle koningin Elizabeth II met van haar kleinkinders en agterkleinkinders, wat in 2022 op die prins en prinses van Wallis se amptelike Instagram-rekening geplaas is, verwyder is weens “digitale veranderinge”.

Hoewel sy nie self in die foto is nie, het die prinses van Wallis dié kosbare foto by die koningin se Skotse woning, Balmoral-kasteel, geneem.

Na bewering is daar verskeie redigeringsflaters in dié foto wat nie aan die agentskap se standaarde voldoen nie, insluitende inkonsekwenthede in die koningin se romp, asook ʼn sogenaamde “wasigheid” in prins Louis se nek.

Dié nuus kom te midde van toenemende ondersoek na en samesweringsteorieë oor prinses Kate se gesondheid ná haar onlangse buikoperasie. Dit volg ook op die hakke van aantygings dat daar ʼn poging was om onwettige toegang tot haar private mediese rekords te verkry.

Die nou bekende Moedersdagfoto van die prinses en haar drie spruite, George, Charlotte en Louis, is natuurlik ook steeds op almal se lippe ná dit deur nuusagentskappe soos AFP en Reuters van hul stelsels verwyder is omdat dit weens soortgelyke redigeringsflaters ook nie aan dié agentskappe se fotostandaarde voldoen nie.

(Foto: AFP)

Die prinses het gevolglik self verskoning gevra en beweer dat sy “nes baie ander amateurfotograwe af en toe met fotoredigering eksperimenteer.”

Volgens Getty sal alle foto’s wat die Britse koningshuis aan nuus- en media-organisasies verskaf, nou deeglik hersien word.

Kate sal glo kort ná Paasnaweek na haar pligte terugkeer. Die Britse koerant die Telegraph berig dat die prinses tans in aanloop daartoe van die huis af aan haar vroeë kinderjare-ontwikkelingsprojek werk.

Bykomende bronne: USA Today, The Telegraph, Vogue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marous ·

Hoekom los hulle nie net die vrou uit nie. Dis nie asof sy hoogverraad gepleeg het nie.

Mariana ·

Soveel bohaai oor fotos. Het hulle niks om hulself mee besig te hou nie. Los ‘n slag die mense uit, laat hulle hul lewens lei. Hoekom moet daar altyd iemand, waarvan mense hou, geteer en geveer word?

Republikein in die Wes Kaap ·

Al die aandag hou hulle relevant. Dink net aan die waarde van ‘n daaglikse TV realiteitsreeks genaamd The Windsors.

Hennie Biebouw ·

…en vir dekades lank reeds, photoshop die media en tydskrifte hule fotos…

Danie ·

Die spul het vervelige leë lewens, daarom dat hulle histeries aandag en tyd in ander se lewens spandeer.

Jannie ·

Hul is net suur omdat hulle nie self die foto’s kan neem nie. Spul vultures!!

Wildemien ·

Wat ‘n storm in ‘n teekoppie! Goeiste! Mag sy dan nie ‘n paar kreukels in die koningin se rok uitstryk en ‘n vuil merk in die kleinprins se nek uitfilter nie.

popsa ·

Hoekom mag foto’s nie geredigeer word nie? Wat is die verskriklike fout daarmee? Dit is tegnologies moontlik, so wie doen dit nié? Ons almal doen dit. Klink vir my eerder of iemand hulle mes in het vir Kate…

popsa ·

Die media kon die afgelope maande nie geld maak met artikels, foto’s en nuus oor Kate nie, want sy was bloot nie beskikbaar nie. Nou word daar na elke greintjie rede gesoek om haar naam in die nuus te kan gebruik. Daardie selfde media redigeer sekerlik ook hulle eie foto’s. Dis geen nuus nie.

Onnie ·

Wat ‘n siek spul, los die prinses se privaatsake uit. Die mense se beheptheid met die koningsgesin is gevaarlik. Daar is darem ‘n perk op wat mense van jou behoort te weet, en wat nie.

Carol ·

Ja-nee, wat maak dit tog saak. Dis nie asof koppe of lywe omgeruil is of iemand wat oorlede is in die foto maak pas is nie. Dis nou n berg van n molshoop maak. Geen wonder Koninging Elizabeth het die ‘dont complain, don’t explain’ toegepas nie. Onnodige drama.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.