Ondersoek gevra na ‘toegang’ tot Kate se mediese rekords

Die foto van Kate Middleton is in Desember 2023 geneem. (Foto: Adrian DENNIS/ AFP)

Die Britse polisie is versoek om ondersoek in te stel na bewerings dat daar gepoog is om toegang te verkry tot die vertroulike mediese rekords van Catherine, prinses van Wallis.

Catherine, vrou van prins William en alombekend as Kate, het in Januarie twee weke in die London Clinic deurgebring waar sy volgens die paleis ʼn buikoperasie ondergaan het.

Die versoek is gerig na ’n berig in The Daily Mirror waarvolgens minstens een poging aangewend is om toegang tot die private mediese inligting te verkry.

Maria Caulfield, Britse minister van gesondheid, het gesê die reëls oor toegang tot pasiëntinligting is “baie, baie duidelik”.

“Tensy jy na daardie pasiënt omsien, of tensy hulle jou toestemming gegee het, het jy nie toegang tot pasiënte se inligting nie,” het sy aan LBC-radio gesê. “Soos ek verstaan, is die polisie gevra om dit te ondersoek,” het sy gesê.

Brittanje se databeskermingswaghond het intussen gesê hy ondersoek die saak.

“Ons kan bevestig dat ons ’n oortredingsverslag ontvang het en die inligting wat verskaf is, beoordeel,” het ’n woordvoerder van die Inligtingskommissaris se kantoor gesê.

Die uitvoerende hoof van die London Clinic het bygevoeg dat “alle toepaslike ondersoekende, regulatoriese en dissiplinêre stappe gedoen sal word” rakende die beweerde oortreding.

Catherine het verlede week ʼn herrie ontketen nadat sy erken het dat sy ’n amptelike foto van haar en haar drie kinders geredigeer het. Dit het verdere aanlyn bespiegeling oor haar gesondheid aangewakker en oor waar sy haar bevind nadat sy sedert ’n Kersdag-kerkdiens nog nie by ’n openbare geleentheid gesien is nie.

Die paleis het in Januarie gesê dat sy ’n lang herstel sal benodig en op die vroegste eers in April haar koninklike pligte sal hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Dankie tog hul aangeplakte sg koninklike waardigheid kom in die lig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien jy hul voorsate se doen en late oor die afgelope 1000 jaar nalees is dit duidelik dat die DNA nie van ‘n hoë standaard is nie. Gewone Britte wil nou die prop uittrek. Die Arbeiders wil die House Lords ontbind. Dis dan die begin van die koninglikes se einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.