‘Cartier’-oorbelle spotgoedkoop verkoop ná foutjie met prys

Die Cartier-oorbelle, geseël met wasseëls, in twee boksies.

ʼn Mexikaanse mediese chirurgie-student het peperduur oorbelle, wat verkeerdelik vir veel goedkoper geadverteer is, ná ʼn stryd van vier maande met die luukse handelsmerk Cartier ontvang.

Rogelio Villarreal, ʼn finalejaar- mediese student in Mexiko se noordelike Tamaulipas-staat, sê die fout in die prys het beteken hy kon die oorbelle van roosgoud vir sy ma koop. Hy het ná ʼn maande lange stryd uiteindelik die twee paar oorbelle, wat hy teen $28 elk (sowat R525) gekoop het, ontvang. Die oorbelle kos eintlik $28 000, oftewel sowat ʼn halfmiljoen rand.

Dié winskoop-aanbod was egter ʼn fout.

Die 27-jarige Villarreal, wat die oorbelle op Instagram gesien het, het Cartier daarvan beskuldig dat hulle geweier het om die oorbelle wat hy in Desember aanlyn gekoop het, af te lewer.

“Ek het in koue sweet uitgeslaan,” het hy op X oor die winskoop geskryf.

Cartier het egter geweier om die transaksie te aanvaar, het Barrons.com berig.

The New York Times het berig Villarreal het niks geweet van die Franse juwelier toe die advertensie op Instagram verskyn het nie. Hy het daarop geklik en geblaai deur bladsye van ander juwele en luukse items, waaronder handsakke, horlosies en halssnoere wat teen derduisende rande te koop aangebied is.

Cartier wou egter niks weet van die transaksie teen die verkeerde prys nie en het aangebied om Villarreal se geld terug te gee. Die onderneming het hom ook ʼn bottel sjampanje en ʼn paspoorthouer as vergoeding aangebied. Hy het dit van die hand gewys en die transaksie het uiteindelik gelei tot ʼn uitgerekte twis tussen Villarreal en die luukse handelsmerk.

Die Twitter-profielfoto by Rogelio Villarreal van Meksiko se Twitter-rekening.

Villarreal het die saak by Mexiko se verbruikersbeskermingsagentskap aangemeld en dié het in sy guns beslis.

Cartier berus by die beslissing.

Villarreal het sy oorwinning op sosiale media aangekondig: “Die oorlog is verby. Cartier voldoen [aan die uitspraak].”

Die toutrekkery tussen hom en Cartier het gelei tot groot belangstelling in die saak, met honderde sosialemediagebruikers wat die sage gevolg het. Sommige het hom aangepor en ander het hom getart.

Uiteindelik het hy laaste gelag en die oorbelle teen die afslagprys gekry.

“Ek is opgewonde, veral vir my ma. Daardie oorbelle is vir haar,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Marthinus W ·

Laas toe ek gekyk het, was Johann Rupert die eienaar van Cartier.

thejudge ·

@Marthinus W, nee die eienaar is die Swiss Richemont Group.

louis ·

Eintlik verkeerde optrede van hom …mens kan n fout maak ….

Danie ·

Rupert is die Voorsitter (lees grootste aandeelhouer) van die Swiss Richemont Group aan wie die Cartier handelsnaam behoort.
So indirek is hy die eienaar van Cartier.

Danie ·

Net n opklaring, volgens die berig het Villarreal twee paar oorbelle gekoop teen $28 elk.
Maw die transaksie het hom $56 gekos?
En sy ma het nou 2 pare (4 oorbelle) om van te kies wat sy wil dra?

ekweetniks ·

$28 000…….
nee kêrels en dames iets is verkeerd met ons wêreld

Bolandse Nooi ·

@Danie, as Rupert die Voorsitter is, beteken dit nie noodwendig hy besit die maatskappy nie. Hy kan Voorsitter van die Direksie wees, in ‘n nie-uitvoerende hoedanigheid en dalk ‘n paar aandele besit, wat hom BESLIS nie die EIENAAR van die handelsmerk maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.