China: 24 dood toe deel van snelweg meegee

(Foto: X)

Minstens 24 mense is dood nadat ʼn gedeelte van ʼn snelweg Woensdag in die vroeë oggendure weens onlangse swaar reën in die suide van China se Guangdong-provinsie ineengestort het.

Die staatsnuusagentskap Xinhua sê ʼn stuk pad tussen Meizhou-stad en die Dabu-distrik het Woensdag omstreeks 02:10 plaaslike tyd meegegee.

Daar word beweer dat ʼn byna 18 m lange stuk pad weggeval het.

Altesaam 20 voertuie en 54 mense het teen die afgrond afgestort en was gevolglik vasgekeer.

Sowat 500 reddingswerkers is deur die loop van die oggend na die toneel ontbied.

Teen Woensdagmiddag het die dodetal op 24 gestaan, met 30 beseerdes in die hospitaal. Hulle is almal buite gevaar, aldus Xinhua.

ʼn Lugfoto wat deur die staatsuitsaaier CCTV gepubliseer is, wys hoe talle motorwrakke in ʼn diep modderige put lê waar die snelweg-gedeelte eens was.

Video’s wat op sosiale media die ronde doen, wys hoe vlamme en rook met sonsopkoms uit die put getrek het.

“Jy kan nie verder gaan nie,” sê ʼn man in een van die video’s. Hy verduidelik dan dat gedeeltes van die pad meegegee het.

AFP kon nie dadelik die video’s verifieer nie.

Staatsuitsaaier CCTV bestempel die ineenstorting as ʼn “natuurlike geologiese ramp … [wat plaasgevind het] onder die impak van aanhoudende swaar reën”.

Die digbevolkte Guangdong is die afgelope weke deur swaar reënstorms getref, wat erge oorstromings en grondverskuiwings in sommige gebiede veroorsaak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.