China hou Amerikaanse, Kanadese oorlogskepe dop

(Foto: Free Malaysia Today Xinhua/AP)

China sê sy troepe is “op konstante hoë gereedheid” nadat Amerikaanse en Kanadese oorlogskepe Woensdag deur die Taiwan-seestraat beweeg het. Dit is dié lande se tweede gesamentlike vaart deur dié seestraat in twee maande.

Die USS Rafael Peralta, ʼn Arleigh Burke-klas missielafweervaartuig, en die Kanadese vloot se Halifax-klas fregat HMCS Ottawa het volgens die Amerikaanse vloot  ʼn “roetine vaart” deur die seestraat onderneem.

Shi Yi, senior kolonel en woordvoerder van China se oostelike bevelsgebied, meen sy troepe op die toneel bly konstant op hoë gereedheid en sal die land se nasionale soewereiniteit en veiligheid, sowel as vrede in die streek en stabiliteit, beskerm.

Hy het die jongste deurvaart as ʼn “openbare bohaai” bestempel en sê sy land se vloot en lugmag het “die vaart deurlopend gemonitor.”

Die skepe se deurvaart kom minder as twee maande nadat twee oorlogskepe wat aan die VSA en Kanada behoort op 9 September deur die seestraat tussen Taiwan en China gevaar het.

Die VSA en sy Westerse bondgenote het deurvaarte in die Taiwan-seestraat sowel as die betwiste Suid-Chinese See as “vryheid van navigasie” vermeerder en daarmee benadruk dat albei in internasionale waters is. Dit het Beijing woedend gemaak.

Die Amerikaanse vloot het in ʼn verklaring gesê die deurvaart is in ooreenstemming met internasionale reg “deur ʼn korridor in die seestraat wat verder as die territoriale see van enige kusstaat is”.

“Samewerking soos hierdie verteenwoordig die middelpunt van ons benadering tot ʼn veilige en welvarende streek waar vliegtuie en skepe van alle nasies mag vlieg, vaar en opereer soos die internasionale reg dit toelaat.”

Taiwan se departement van verdediging het Donderdag gesê hy monitor die vaart, maar het bygevoeg dat “die situasie normaal is”.

China, wat aanvoer dat Taiwan aan China behoort en in die toekoms beslag op die eiland sou kon lê, het militêre en politieke druk op die selfregerende eiland verskerp namate verhoudings tussen die lande die afgelope paar jaar verswak het.

In September het China 103 vliegtuie binne ʼn 24-uur tydperk rondom Taiwan gestuur, wat deur Taipei as “ʼn onlangse hoogtepunt” beskryf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.