Depardieu ondervra oor klagte van seksuele aanranding

Die Franse veteraanakteur, Gerard Depardieu. (Foto: Instagram)

Die Franse polisie het die legendariese akteur Gerard Depardieu Maandag ingeneem vir ondervraging nadat twee vroue hom van seksuele aanranding beskuldig het, het ʼn bron met binnekennis oor die ondersoek gesê.

Die 75-jarige akteur, wat al in meer as 200 rolprente en TV-reekse verskyn het, is in 2020 van verkragting aangekla en moes sy loopbaan verlede jaar op die lange baan plaas terwyl nog bewerings van seksuele teistering en aanranding teen hom opgehoop het.

Die polisie sal Depardieu na verwagting ondervra oor twee vroue se bewerings dat hy hulle aangerand het; een op ʼn filmstel in 2021 en die ander tydens verfilming in 2014, het ʼn bron gesê.

Die akteur se regsverteenwoordigers, Christian Saint-Palais en Beatrice Geissmann Achille, het nie dadelik op AFP se versoek om kommentaar gereageer nie.

Die eerste vrou wat hom – in die jongste voorvalle – van seksuele aanranding beskuldig, was ʼn spanlid van die 2022-rolprent The Green Shutters. Sy voer aan die voorval het tydens die verfilming van dié fliek gebeur. Die stelontwerper, wat in Februarie ʼn formele klag ingedien het, het aan die ondersoekende webwerf Mediapart gesê Depardieu het haar gegryp terwyl sy die stel, geleë in ʼn private hotel in Parys, verlaat het.

Sy beweer die akteur het haar “middellyf en maag” betas, na haar borsgedeelte beweeg en onwelvoeglike opmerkings gemaak voor sy lyfwagte hom weggeneem het.

Die vrou se regsverteenwoordiger, Carine Durreu-Diebolt, wou geen verdere besonderhede oor die beweerde voorval verskaf nie.

Die tweede vrou het aan die koerant Le Courrier de l’Oust gesê Depardieu het haar “oraloor” betas en “onvanpaste” opmerkings gemaak terwyl sy ʼn assistent op die stel van die 2015-rolprent Le magician et le Siamois (The Magician and the Siamese) was.

Verkragtingsklag

ʼn Verkragtingsklagte staar Depardieu reeds in die gesig, asook bewerings van aanranding van talle vroue – klagtes wat hy alles ontken.

“Nog nooit het ek ʼn vrou misbruik nie,” het Depardieu in Oktober in Le Figaro geskryf.

Die polisie het Depardieu in 2020 van verkragting en seksuele aanranding aangekla nadat die aktrise Charlotte Arnould beweer het die veteraanakteur het haar in 2018 verkrag. Sy was 22 jaar oud en het aan anoreksie gely.

Nog ʼn klagte is verlede jaar deur die aktrise Helene Darras aanhangig gemaak. Sy het beweer Depardieu het haar tydens verfilming in 2007 betas en onwelvoeglike voorstelle aan haar gemaak. Dié klagte is intussen laat vaar omdat dit verjaar het.

Die Spaanse joernalis en skrywer Rugh Baza het in Desember gesê sy het ʼn klagte in Spanje teen Depardieu aanhangig gemaak. Sy voer aan hy het haar in 1995 in Parys verkrag.

Ondanks die feit dat die klagte aangemeld is lank nadat Depardieu nog daarvoor vervolg kan word, het Baza nietemin besluit om dit te doen, in die hoop dat dit “ander mense sal help” om dieselfde te doen.

Aktrise Anouk Grinberg, een van Depardieu se medeakteurs in The Green Shutters, het beskryf hoe sy en ander op die stel “van die oggend tot die aand aan sy skurwe nonsens onderwerp is”.

“Wanneer rolprentvervaardigers Depardieu vir ʼn film kies, weet hulle hulle kies ʼn aggressor,” het sy gesê.

Grinberg sê die vervaardigers van The Green Shutters het kwansuis iemand aangewys om sake van teistering te hanteer, maar dié persoon sit hande gevou.

Die Franse rolprentbedryf is die afgelope paar maande geruk deur bewerings dat dit seksisme en seksuele misbruik dekades lank as onbelangrik afgemaak het, met kritiek dat die kunste te lank as dekmantel vir misbruik gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

As boer het ek baie goeie raad wat die man uit die moeilikheid kan hou, net n skerp sakmes!!

Marieta ·

Hulle moet strawwe vir seksoortreders verskerp! Die duiwel is oral los en veral in die film bedryf. As ouer raak ek bekommerd om ons kinders daagliks in die wolwe hok los te laat.

Hendrik ·

Alta Alleman, ja dan nie maar net die sak nie. As jy verstaan wat ek bedoel.

Niklaas ·

Daar is natuurlik dosyne glanspersone en bekendes wat wegkom met hul dade. Ongelukkig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.