Die wêreld in foto’s – 29 Julie 2019

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Wladimir Poetin, die Russiese president, luister na Igor Artemjef, hoof van die Russiese federale teen-monopoliediens, tydens hul ontmoeting in die Kremlin in Moskou, Rusland. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

Pakistanse seuns speel in ʼn oorstroomde straat ná ʼn hewige reënbui in Karatsji, Pakistan. Die Pakistanse weerdiens voorspel nog reën vir volgende drie dae. (Foto: Fareed Khan, AP)

ʼn Kambodjaanse boer kap gras by die Thnol Chek-nedersetting buitekant Phnom Penh, Kambodja. (Foto: Heng Sinith, AP)

Wit ballonne word losgelaat tydens die Italiaanse polisieman Mario Cerciello Rega se begrafnis in sy tuisdorp, Somma Vesuviana, naby Napels, Suid-Italië. Twee Amerikaanse tieners is Saterdag in Rome in hegtenis geneem en die owerheid ondersoek tans hul vermeende betrokkenheid by Rega se dood. Rega is naby hulle hotel doodgesteek. (Foto: Andrew Medichini, AP)

ʼn Polisiebeampte loop langs ʼn ICE-snelwegtrein in Frankfurt, Duitsland. ʼn Agtjarige seun is Maandag deur ʼn trein getref by die hooftreinstasie in Frankfurt. Die kind en sy ma is na bewering deur ʼn man op die treinspoor gestamp, maar die ma kon daarin geslaag om vinnig genoeg te ontsnap. Die kind het aan sy beserings beswyk. (Foto: Michael Probst, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.