Dieretuinwerker byna deur leeus verskeur

Argieffoto: Designerpoint, Pixabay

’n Dieretuinwerker is Vrydag in ’n Australiese dieretuin byna deur twee leeus verskeur. Dié dieretuin is sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie gesluit.

Gulf News berig die werker was besig om die leeus se kamp skoon te maak toe hulle haar aangeval het.

Nooddienste is Vrydag vroegoggend na die Shoalhaven-dieretuin in die noorde van Sydney in Australië ontbied. Hulle het op die 35-jarige vrou afgekom waar sy ernstige kop- en nekbeserings opgedoen het. Sy is in ’n kritieke maar stabiele toestand per helikopter na ’n hospitaal in Sydney geneem, waar sy verdere mediese behandeling ontvang het.

Faye Stockman, ’n ambulansbeampte van die New South Wales- (NSW-)ambulansdiens, het die voorval as ontstellend beskryf.

Stockman vertel paramedici moes in die leeus se kamp ingaan om by die beseerde vrou uit te kom. Hy sê die situasie was uiters gevaarlik vir die beseerde én paramedici.

“Dit was skrikwekkend om die eerste persoon ná die voorval te wees om die vrou in haar toestand te sien. Ek het nog nooit in my loopbaan só ’n erge noodgeval beleef nie,” sê Stockman.

Volgens supt. Greg Moore van die polisie is dié twee leeumannetjies kort ná die voorval in veilige bewaring geplaas en hou geen verdere bedreiging vir mense in nie.

Hy sê dit is nog te vroeg in die ondersoek om te sê of die leeus doodgemaak gaan word.

Nóg ’n dieretuinwerker in dieselfde dieretuin het in 2014 ’n handbesering opgedoen nadat ’n krokodil hom in die water probeer insleep het. Dit het tydens ’n voedingsdemonstrasie aan toeskouers gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Susan ·

Nou hoekom dalk van dier ontslae raak?? Di leeu is in di dietetuin weens omstandighede wat ons ni weet ni. Nou het di oer instink om aan te val in geskop. Vir nou is di leeu in bewaring, maar wat daarna??

4ntj13 ·

Ten minste is die Australiërs meer bekend vir rasionele denke as deesdae in ons ou landjie. Ek het vertroue dat hulle mensliker alternatiewe sal oorweeg voordat sulke diere uiteindelik ook menslik genadedood kan kry.

Anel ·

Onthou, die mens is nooit verkeerd nie. Dis altyd die dier. Ek is al so moeg daarvior dat die onskuldige diere moet boet vir die mens se nalatigheid of onbevoegdheid. Die diere het ook nie ‘n stem om hulle self te verdedig nie.

Raakvatter ·

Ek wonder of die afsondering iets daarmee te doen het. Die leeus is gewoond aan mense, maar in afsondering was daar geen toeloop van mense nie en dalk, miskien net dalk, het oeroue instinkweer ingeskop.

Claudette ·

Hoekom moet die diere altyd uitgesit word? Hulle moet die leeus in hokke sit as dit skoon gemaak word. Dit is wilde diere…maak my woedend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.