Doodsklok kan vir dié seespesies lui

Doegong is ʼn groot plantvretende seesoogdier wat familie is van die manatee. (Foto: Ray Aucott/Unsplash)

Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) het sy lys van bedreigde spesies opdateer en waarsku dat ʼn aantal broodnodige seespesies dreig om uit te sterf indien hul bevolkingsagteruitgang nie hok geslaan word nie.

Een van die drie nuwe byvoegings tot die lys, die doegong, word tans die ergste bedreig, gevolg deur perlemoen en pilaarkoraal.

Doegong is ʼn groot plantvretende seesoogdier wat familie is van die manatee. Doegongs word dikwels die koei van die see genoem, aangesien dié dier op seegras in vlak kuswaters wei. Dié sogenaamde seekoeie is egter nader verwant aan olifante as aan koeie, en speel ʼn integrale rol in vlak kuswaters se ekosisteme.

Volgens die IUCN is die bevolking van doegongs aan die kus van Oos-Afrika en Nieu-Caledonia in die Stille Oseaan gelys as onderskeidelik “kritiek bedreig” en “bedreig”. Wêreldwyd bly dié spesie geklassifiseer as “kwesbaar”.

Doegongs se primêre bedreiging aan die kus van Oos-Afrika is wanneer hulle as ʼn onbedoelde vangs in visgereedskap verstrengel raak. Stropery is egter ʼn groot rede vir die afname in bevolkingsgroepe in Nieu-Caledonia, asook bootbeserings in albei gebiede.

Dié seespesie is ook nie gevrywaar van habitatvernietiging nie en in Oos-Afrika is die eksplorasie en produksie van fossielbrandstof, besoedeling en ongemagtigde ontwikkeling besig om hul voedselbron te vernietig. Dit terwyl seegras in Nieu-Caledonia beskadig word deur landbou-afloop en besoedeling deur nikkelmynbou.

Die nuwe lys van bedreigde spesies word tydens ʼn VN-biodiversiteitskonferensie in Montreal, Kanada, bekendgestel, waar ʼn nuwe raamwerk vir “ʼn vredesverdrag met die natuur” gefinaliseer word. Van die sleuteldoelwitte is om ʼn groter omvang van woude, oseane en spesies te bewaar.

Stewart Maginnis, adjunkdirekteur van die IUCN, sê mense se vermoë om die tempo waarteen uitsterwing plaasvind te vertraag en te beperk, is grotendeels gefokus op landspesies. “Ons is egter 30 jaar agter met effektiewe mariene bewaring – nou kan ons hopelik begin inhaal”.

Maginnis het bygevoeg dat die bedreigde spesielys nie “ʼn hopelose katalogus van ondergang” is nie, maar eerder dien as ʼn wetenskaplike instrument wat help om op bewaringsaksie te fokus.

Die lys sluit reeds meer as 150 000 spesies in, met meer as 42 000 wat deur uitsterwing bedreig word. Meer as 1 550 seediere en -plante wat geassesseer is, loop die risiko om uit te sterf, met klimaatsverandering wat minstens 41% van dié wat bedreig word, beïnvloed.

Mense die groot sondebok

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Die Valke)

Die IUCN het ook die lys aangepas om aan te dui dat 44% van alle perlemoen in die wêreld nou bedreig word deur uitsterwing. Dit terwyl pilaarkoraal na “kritiek bedreig” op die gevaarlys beweeg het.

Perlemoenspesies word as lekkernye beskou, wat lei tot onvolhoubare ontginning en stropery deur internasionale georganiseerde misdaadnetwerke, veral in Suider Afrika.

Perlemoen is ook baie vatbaar vir klimaatsverandering, soos gesien toe ʼn mariene hittegolf buite Wes-Australië in 2011 altesaam 99% van die perlemoen daar uitgewis het.

Landbou- en besoedelingsafloop veroorsaak ook skadelike algebloei, wat die Omani-perlemoen, ʼn kommersiële spesie wat in die Arabiese Skiereiland voorkom, in die helfte van sy voormalige verspreidingsgebied uitgewis het.

Met al dié bedreigings wat dié spesies in die gesig staar, word 20 van die wêreld se 54 perlemoenspesies nou met uitsterwing bedreig.

“Perlemoen weerspieël die mensdom se rampspoedige vermoë om ons oseane se mikrokosmos te beskerm,” sê Howard Peters van die Universiteit van York, wat die beoordeling vir die lys gelei het.

“Oormatige visvang, besoedeling, siekte, habitatverlies, algebloei, verwarming en versuring is maar net ʼn paar van die bedreigings vir hierdie spesie. Hulle is sowaar die kanarie in die steenkoolmyn.”

Pilaarkoraal, wat oral in die Karibiese Eilande voorkom, het van “kwesbaar” na “kritiek bedreig” op die gevaarlys gevorder nadat dié spesie se bevolking sedert 1990 met meer as 80% oor die grootste deel van sy reeks gekrimp het.

Pilaarkoraal is veral vatbaar vir bleiking, wat veroorsaak word wanneer die see se oppervlaktemperatuur styg, sowel as wanneer antibiotika, kunsmis en riool in die oseane inloop.

Steenkoraalweefselsiekte het ook dié spesie se getalle die afgelope vier jaar verwoes, terwyl oormatige visvang rondom koraalriwwe boonop meer druk veroorsaak het deurdat die aantal visse wat normaalweg daar sou wei, nou uitgeput is. Dit laat alge toe om te oorheers.

“Die pilaarkoraal is net een van 26 korale wat nou as ‘kritiek bedreig’ in die Atlantiese Oseaan gelys is. Byna die helfte van alle korale loop nou ʼn verhoogde risiko om uit te sterf weens klimaatsverandering en ander impakte,” sê Beth Polidoro van die Arizona-staatsuniversiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.