Dosyne dood toe dam in Kenia breek

Jong mans ondersoek ʼn voertuig wat deur water verwoes is in Kamuchiri naby Mai Mahiu (29 April 2024) (Foto: Luis Tato/AFP)

Minstens 45 mense is Maandag in die vroeë oggendure dood toe ʼn tydelike dam naby ʼn dorp in Kenia se Skeurvallei gebreek het, het die polisie gesê. Die land word geteister deur stormreën en oorstromings.

Dié ramp bring die dodetal tydens die reënseisoen van Maart tot Mei in Kenia op meer as 120 te staan. Oos-Afrika beleef ʼn swaarder reënval as gewoonlik wat vererger word deur die El Niño-weerpatroon.

Inwoners sê die tragedie het in die middel van die nag naby Mai Mahiu in Nakuru plaasgevind. Water het teen ʼn heuwel afgestroom en alles in sy pad meegesleur. ʼn Pad is versper, bome het omgeval, huise het weggespoel en voertuie is meegesleur.

“Dit het soos ʼn aardbewing en ʼn aankomende trein geklink,” het Margaret Wangechi, ʼn 52-jarige onderwyseres, gesê.

ʼn Senior beampte by Nakuru-polisie het telefonies aan AFP gesê 45 liggame is tot dusver gevind. Nakuru-goewerneur Susan Kihika het gesê minstens 110 mense word in hospitale behandel.

Reddingsbeamptes deursoek nog die puin. Hulle maak van skoffels en in sommige gevalle hul kaal hande gebruik in ʼn desperate soektog na oorlewendes.

“Ons het van die liggame in bome opgespoor. Ons weet nie hoeveel nog onder die modder vasgekeer is nie,” het Stephen Njihia Njoroge, ʼn plaaslike inwoner betrokke by die nooddienspogings, aan AFP gesê.

Die ramp het by die Ou Kijabe-dam plaasgevind, ʼn grens wat oor dekades natuurlik gevorm het ná spoorwegkonstruksiewerk deur Kenia se voormalige Britse koloniale heersers.

Die Rooi Kruis het ʼn tydelike kantoor by ʼn plaaslike skool ingerig om families te help wat geliefdes verloor het.

Kithure Kindiki, minister van binnelandse sake, het gesê die regering het veiligheid- en intelligensiebeamptes opdrag gegee om alle staat- en privaat damme en waterreservoirs in hul jurisdiksie binne 24 uur te ondersoek en gevalle aan te beveel vir verpligte ontruiming of tydelike hervestiging.

Beamptes het Saterdag gesê minstens 76 mense is sedert Maart in Kenia dood met meer as 130 000 wat dakloos gelaat is.

Skole is gedwing om hul deure te sluit. Die ministerie van onderwys het Maandag aangekondig dat hulle die deure eers weer op 6 Mei sal oopmaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.