Drie sterf toe vliegtuig by huis neerstort

(Foto: Facebook/Roy Stofberg)

Drie mense is dood toe ʼn vliegtuig Vrydag in Windhoek, Namibië, kort ná opstyging neergestort het.

Die vliegtuig, ʼn Westair AF 406, het op ʼn instandhoudingstoetsvlug met twee vlieëniers en een werktuigkundige aan boord van die Eros-lughawe vertrek voordat dit kort daarna neergestort het en aan die brand geslaan het. Die ongeluk het in ʼn residensiële gebied in Rieckmannstraat, Pioneers Park, plaasgevind.

Volgens hoofinspekteur Elifas Kuwinga van die Namibiese-polisie het die oorledenes onherkenbaar verbrand.

(Foto: Facebook/Kwatouta Nghilongwa-Ndunge Katenda)

Luidens ʼn verklaring van Westair Aviation het “die katastrofiese gebeurtenis almal by die lugredery in rou gedompel”.

(Foto: Facebook/Roy Stofberg)

“Eerstens gaan ons harte uit na die families, vriende en kollegas wat deur hierdie tragedie geraak is. Ons betuig ons innige simpatie aan hul geliefdes in hierdie moeilike tyd.

“Die veiligheid en welstand van ons passasiers en bemanning is ons hoogste prioriteit, en ons is daartoe verbind om die presiese oorsaak van hierdie voorval te verstaan.

“Ons sal in samewerking met lugvaartveiligheidskundiges en relevante owerhede ʼn omvattende ondersoek doen om te verseker dat alle nodige stappe gedoen word om te verhoed dat so ʼn voorval weer plaasvind.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.