Duimop-emoji is bindend, sê hof

(Grafika: Emojipedia)

Om emoji’s in ʼn werksgesprek te gebruik kan dalk tot misverstande lei, maar in die toekoms gaan jy ekstra versigtig moet wees met die prentjie waar jy jou duim in die lug hou.

ʼn Regter in Kanada het bevind dat dié emoji bewys is van ʼn kontraktuele ooreenkoms en net so bindend as ‘n handtekening is.

Chris Achter, ʼn boer van Saskatchewan, het in 2021 die emoji in ʼn gesprek met Kent Mickleborough, ʼn graankoper, gebruik, berig The Guardian.

Ná Mickleborough ʼn kontrak onderteken het om 86 ton vlas te koop, het hy ʼn foto daarvan na Achter gestuur. Die boer het met ʼn duimop-emoji reageer – skynbaar ʼn aanduiding dat hy instem om dit te verkoop, maar hy het nooit afgelewer nie.

Die boer voer aan dit is nie wat die emoji se bedoeling was nie. Volgens hom het hy dit slegs aangestuur om te wys hy het die kontrak ontvang, nie dat hy tot die bepalings instem nie. Hy sê hy het ook aangeneem ʼn “volledige kontrak sal per faks of e-pos volg” sodat hy dit kon hersien.

Mickleborough sê egter hy het geskryf: “Bevestig asseblief vlas-kontrak” saam met die foto van die kontrak. Toe Achter dus die duimop-emoji terugstuur, het Mickleborough aanvaar dat dit “sy manier” was om tot die bepalings in te stem.

As buitestander is dit duidelik hoe die teksgesprek tot ʼn misverstand kan lei, gegewe die verskillende maniere hoe mense emoji’s gebruik.

Regter TJ Keene het egter daarop gewys dat die twee mans gereeld vantevore deur teksboodskappe ooreenkomste aangegaan het. Dié gesprek het dus soos vorige gesprekke gelyk. Hy het ook daarop gewys dat dictionary.com se definisie van die duimop-emoji in digitale kommunikasie gebruik word om “goedkeuring, instemming of aanmoediging te toon”, veral in Westerse kulture.

Hy het Achter beveel om skadevergoeding van 82 200 Kanadese dollar (sowat R1,1 miljoen) te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Juanita ·

Dit is verregaande. ‘n Leuen verklikker kan nie in die hof gebruik word nie maar ‘n “thumbs up” prentjie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.