Duisende gestrand in modder by Burning Man

Tienduisende feesgangers was Sondag in ʼn modderige gemors in die Nevada-woestyn in die VSA vasgevang nadat reën die jaarlikse Burning Man-byeenkoms in ʼn moeras verander het.

Beeldmateriaal wys hoe feesgangers op die nat grysbruin terrein sukkel in ʼn poging om weg te kom, met sommige wat vullissakke as tydelike stewels gebruik, terwyl dosyne voertuie in die modder vasgeval het.

Die fees – waarvoor kaartjies honderde dollar beloop – se jaarlikse hoogtepunt is die seremoniële verbranding van ʼn 12 meter hoë installasiebeeldhouwerk.

Die fees word sedert die 1990’s in die Black Rock-woestyn gehou, ʼn beskermde gebied in die noordweste van Nevada.

Talle geleenthede by dié teenkultuurfees, wat sowat 70 000 mense getrek het, is egter vanjaar gekanselleer toe swaar reën strukture vir danspartytjies, kunsinstallasies en ander vermaak vernietig het.

(Foto: AFP)

Sommige feesgangers was vreesbevange en het desperaat probeer om van die modderige terrein te vlug.

“Ek was bang vir wat sou gebeur as soveel mense se toiletpapier en water en kos opraak, so ek het gevoel ek moet uit,” het Pascale Brand, ʼn 40-jarige besoeker wat van Nederland na die fees gereis het, aan AFP gesê.

Brand sê sy het “baie gehuil” voordat sy Sondag besluit het dat sy die feesterrein moet verlaat, “maak nie saak wat nie”.

Sy het ʼn saamrygeleentheid met ʼn buurman gekry en volgens Brand kon hulle gelukkig die modderrige terrein sonder enige probleme verlaat.

Daar was glo mense wat vir haar geskree het “jy kan nie weggaan nie… Gaan terug! Die hekke is toe,” maar hul voertuig kon dit verby ʼn onbemande hek en na ʼn geteerde pad maak, sê Brand.

Ander het die strawwe tog in die modderige toestande te voet afgelê.

“Dit was ʼn ongelooflik ontstellende staptog van ongeveer 10 km. Ons het teen middernag deur swaar reën en gladde modder geloop, maar ek het veilig weggekom,” het Neal Katyal,  ʼn prokureur, op sosiale media gesê.

Feesorganiseerders het feesgangers aangemoedig om “kos, water en brandstof sorgsaam te gebruik en skuiling in ʼn warm, veilige ruimte te soek”. Die “”playa” – die gebied waar die fees aangebied word – was onbegaanbaar.

Die polisie het ook gesê hulle ondersoek ʼn sterfgeval in die reënerige toestande, maar wou geen verdere besonderhede verskaf nie.

Organiseerders het feesgangers gevra om by die Black Rock City-lokaal te skuil nadat swaar reën Vrydagaand uitgesak het. Verspreide buie het die hele naweek voortgeduur, en dit het Sondag twee uur lank gereën.

“Jy kan nie regtig loop of ry nie,” het ʼn jong sirkuskunstenaar, Christine Lee, op TikTok gesê, en bygevoeg dat die modder in sommige gebiede vyf duim diep was.”

Organiseerders het ook gewaarsku dat slegs sommige viertrekvoertuie met alle-terreinbande in die gemors sou kon beweeg.

“Enigiets minder as dit sal vassit. Dit sal die uittog verder belemmer as ons motors het wat op die paaie vassit.”

Volgens die organiseerders is dit wel moontlik om na die naaste pad te stap, waar busse voorsien sal word om mense na Reno te neem.

Van die passasiers wat met die busse vervoer is, sê hulle het ten minste 25 voertuie getel wat in modder op die paaie vasgesit het.

Volgens ʼn amptenaar van die Withuis is pres. Joe Biden ingelig oor die situasie in die woestyn.

Burning Man, wat in 1986 vir die eerste keer in San Francisco bekendgestel is, is ʼn ondefinieerbare gebeurtenis – iewers tussen ʼn viering van teenkultuur en ʼn geestelike toevlugsoord.

Verlede jaar was feesgangers blootgestel aan ʼn intense hittegolf en sterk wind.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janice ·

Hulle neuk jaarliks ‘n hele eko sisteem op vir hulle oppervlakkige twak en nou moet ons hulle jammer kry? Jammer, maar dit werk nie so nie.

JohanR ·

Dis nou ‘n idee. Kom ons brand 12 meter hoe standbeeld van Cyril Ramaphosa!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.