Duisende ontruim nadat bom naby stasie gevind word

Argieffoto. (Foto: AP Photo/Jens Meyer)

Die situasie in Halle, Duitsland, is terug na normaal nadat die ontdekking van ʼn 250 kg-bom wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer Maandag ʼn massa-ontruiming tot gevolg gehad het.

Duisende mense moes uit huise, skole, aftree-oorde en dagskole ontruim word nadat die bom naby die hooftreinstasie gevind is.

Bild berig die bom is omstreeks 10:20 (plaaslike tyd) sowat 100 m vanaf die stasie ondergronds ontdek tydens bouwerk aan die Deutsche Bahn. Treindienste is onmiddellik gestaak en die stasie is summier ontruim. ʼn Radius van 800 m om die bom is afgesper, terwyl daar op luidsprekers afgekondig is dat inwoners in die onmiddellike gebied moet ontruim.

Volgens Bild moes sowat 12 400 mense onmiddellik hul huise en kantore verlaat, terwyl reddingswerkers gehelp het om gestremdes en bejaardes uit versorgingsoorde te bring. Neue Presse berig dit het ure lank geneem om die gebied rondom die stasie, insluitend ses skole, te ontruim.

ʼn Inwoner van Halle het die situasie as ʼn “nagmerrie” beskryf en aan Maroela Media gesê die opskorting van treindienste het groot ontwrigting in die stad veroorsaak.

Die stad het alternatiewe behuising gebied vir inwoners wat deur die ontruiming geraak is, terwyl ander by vriende en familie ʼn heenkome gevind het. Du Bist Halle berig ongeveer 340 vrywilligers het beamptes van die stadsraad, polisie en hulporganisasies gehelp om die ontruiming te koördineer.

Intussen is bomkenners ontbied om die bom te ontlont. Die bom is teen 19:20 ontlont en die situasie is weer veilig verklaar. Bernd Wiegand, burgemeester van Halle, het al die betrokke rolspelers bedank vir hul vinnige optrede en gesê die stad het hierdie “buitengewone situasie” besonder goed hanteer.

Halle is in die sentrale gedeelte van Duitsland geleë, sowat 170 km suidwes van die hoofstad Berlyn. Die stad het ʼn bevolking van ongeveer 240 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

wow …nice vandag se berig maroela is nou intersant en wens kon fotos wys graag wil sien bom in nou lyk ongelooflik mense nie besef wat alles in die grond of water aangaan nie bv bou bo op grafplase ens

Cherokee ·

In ± 75 jaar het die bom nie afgegaan nie maar nou word huise ontruim en alles word tot stilstand gebring! Bomme gaan nie af in vredestyd nie en dit is Duitsland, nie Suid Afrika nie.

Gert van Wierdapark ·

Hoop nie Pres Ramaphosa Los vanaand ‘n “bom”, met die aankondiging van sy nuwe Kabinet nie! Hou Des net asb weg van finansies! Ek Wonder of die langsdienende minister, Jeff Radebe, darem die paal gaan haal? Seker maar….! Wat van bietjie raaiwerk soos met die Durban July? Hier volg n paar keusrs: Finansies = Gordhan, Dlamini = Maatskaplike ontwikkeling, Sport, Kuns en Kul-tuur = me Sisulu: Omgewingsake = Hanekom: Verdediging = Bheki Cele: Polisie = McBride: Staats-diens-ontwikkeling = Busisiwe Mkhwebane!

ZAR ·

Hierdie is nie ‘n vreemde geval nie, daar is al honderde bomme in Duitsland gekry wat uit die tweede wêreldoorlog kom. Wat wel uniek is is die enkele bom wat nou die dag in engeland gekry is. Die oorlog was nie soos ons dit in geskiedenis geleer is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.