Duisende wag Olimpiese fakkel in Parys in

(Foto: X)

Die Olimpiese fakkel is op pad na Frankryk met ʼn gechoreografeerde seremonie en ʼn skare van 150 000 mense.

Die oordrag van die fakkel aan die wal van die suidelike hawe van Marseille sal die begin van ʼn 12 000 km-aflos oor Frankryk en sy verafgeleë oorsese gebiede verteenwoordig.

Die Belem, die skip wat die fakkel in 12 dae vanaf Griekeland vervoer, is vroeg Woensdag langs die kus van Marseille gewaar.

Organiseerders hoop dat die eerste openbare skouspel – net 79 dae voor die afskop van die Spele – die skare opgewonde sal maak om dit by te woon.

Die Olimpiese Spele in Parys sal van 26 Julie tot 11 Augustus plaasvind, gevolg deur die Paralimpiese Spele van 28 Augustus tot 8 September.

“Dit is iets waarvoor ons al baie lank wag,” het Tony Estanguet, hooforganiseerder van die Olimpiese Spele in Parys, Maandag gesê met verwysing na die 100 jaar sedert Parys laas die Spele aangebied het.

“Die Spele kom huis toe.”

Frankryk, wat ook in 1900 die gasheer was, beskou homself in die hart van die moderne Olimpiese beweging nadat ʼn Franse aristokraat, Pierre de Coubertin, die idee van die Spele laat herleef het soos dit deur die Grieke tot die 4de eeu v.C. beoefen is.

Ná die Tokio Spele in 2021, kort ná Covid-19, en die korrupsie-besmette Rio de Janeiro-spele in 2016, word die Olimpiese Spele in Parys as ʼn belangrike oomblik vir dié skouspelagtige byeenkoms beskou.

Volgens Benoit Payan, Marseille se burgemeester, is die hawe waar die fakkel oorhandig word in 600 v.C. deur Griekse handelaars in gebruik geneem.

Die idee van die fakkelsaamtrek spruit uit die antieke Olimpiese Spele toe ʼn heilige vlam dwarsdeur die Spele gebrand het.

Meer as 1 000 ander bote sal die Belem na die hawe vergesel en organiseerders verwag dat ongeveer 150 000 mense sal kyk hoe die fakkel aan wal kom in die Marseille-marina, wat die vaarbyeenkomste tydens die Olimpiese Spele sal aanbied.

Vuurwerk en ʼn gratis konsert sal die program voltooi wat regstreeks op Franse TV uitgesaai sal word.

Streng veiligheid sal geld

In die agtergrond sal ongeveer 6 000 veiligheidsmaglede aan diens wees, aangesien die land tans op sy hoogste terreurwaarskuwing is.

“Dit is heeltemal ongekend vir die nasionale polisie om soveel mense op dieselfde dag op dieselfde plek te mobiliseer,” het Cedric Esson, streekpolisiekoördineerder, Maandag gesê.

Florent Manaudou, die viermalige Olimpiese medaljewenner, is die eerste fakkeldraer.

Ander sterre wat sal deelneem aan die parade, wat Donderdag in Marseille voortduur, sluit in die NBA-bekroonde basketbalspeler Tony Parker en die Ivoorkus-sokkerreus Didier Drogba, asook liefdadigheids- en vermaaklikheidsfigure.

Uiters streng veiligheid sal ʼn konstante kenmerk wees, aangesien die fakkel deur meer as 450 Franse dorpe en stede sal beweeg en verby dosyne toeriste-aantreklikhede, waaronder die Mont Saint Michel, sal verbygaan.

Ongeveer 200 lede van die veiligheidsmagte sal permanent rondom die fakkel geposisioneer word, insluitend ʼn teen-terreur-SWAT-span en teen-hommeltuig-operateurs.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, het verwys na die risiko van betogings, onder meer van ver-linkse groepe of omgewingsaktiviste soos Extinction Rebellion.

Organiseerders het ʼn “skouspelagtige” en “ikoniese” Olimpiese Spele belowe, met baie van die sport wat in tydelike plekke rondom die stad sal plaasvind, waaronder by die Eiffeltoring en die Invalides.

Die openingseremonie sal in bote op die Seinerivier plaasvind, in ʼn radikale afwyking van vorige Spele-byeenkomste wat in die hoofstadion geopen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.