Erdogan sit termyn weer voort

Recep Tayyip Erdogan het sy teenstander net-net geklop in wat as sy “moeilikste verkiesingsoorwinning” nog beskryf word. (Foto: Umit Turhan Coskun / AFP)

Die Turkse president Recep Tayyip Erdogan sal sy termyn ná twee dekades opnuut voortsit nadat hy tydens ʼn geskiedkundige verkiesing weer tot president van dié land verkies is.

Dit sal die 69-jarige Erdogan se transformerende, maar terselfdertyd ook verdelende, bewind tot 2028 verleng.

Hy het Maandag ʼn beroep op “nasionale eenheid” gedoen.

“Ons moet in eenheid en solidariteit saamkom,” het Erdogan aan ʼn menigte vlagswaaiende ondersteuners buite die presidensiële paleis in Ankara gesê.

“Ons doen met ons hele hart ʼn beroep hierop.”

Erdogan het Turkye gehelp om sy ergste ekonomiese krisis in dekades te oorkom en sy teenstander net-net geklop in wat as sy “moeilikste verkiesingsoorwinning” nóg beskryf word.

Hy het die sekulêre opposisie se kandidaat, Kemal Kilicdaroglu, met vier persentasiepunte getroef.

Kilicdaroglu is die leier van die Republican People’s Party.

Dié opposisieparty word as die kragtigste teenstander beskou wat Erdogan se Islamities gewortelde party, die Justice and Development Party, nóg mee te doen gehad het.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het kort ná Erdogan se oorwinning op Twitter gesê hy sien uit daarna om voort te gaan om as Navo-bondgenote saam te werk aan bilaterale kwessies en gedeelde wêrelduitdagings.

Antonio Guterres, hoof van die Verenigde Nasies (VN), het gesê hy sien uit om die samewerking tussen Turkye en die VN te versterk.

Rusland en Oekraïne se presidente het ook kommentaar op Erdogan se presidentskap gelewer.

Volgens Rusland se Wladimir Poetin dui Erdogan se oorwinning op die steun vir sy “pogings om staatsoewereiniteit te versterk en ʼn onafhanklike buitelandse beleid na te streef”.

Oekraïne se president, Wolodimir Zelenski, sê hy wil voortgaan om met Erdogan saam te werk “vir die veiligheid en stabiliteit van Europa”.

Ondersteuners van die opposisie het die verkiesing as ʼn “maak-of-breek-geleentheid” beskryf om te verhoed dat Turkye in ʼn outokrasie verander word.

Kilicdaroglu het ná die uitslag van die verkiesing in ʼn kort verklaring gesê hy is “hartseer oor al die probleme wat op die land wag” onder Erdogan se heerskappy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.