Fiksheidghoeroe gekap oor babafoto

Baba Leni by die strandgimnasium (Foto: Joe Wicks/Instagram)

Joe Wicks het ʼn foto van sy sewe maande oue baba, wat by ʼn buitelug-gimnasium van ʼn optrekpyp hang, verdedig.

Wicks (37) is gekritiseer oor die foto wat aanhangers geskok gelaat het. Hy het die foto op sy Instagram-profiel gedeel toe die gesin vakansie gehou het in Santa Monica, Kalifornië.

Die sogenaamde Body Coach het die strandgimnasium besoek saam met sy vrou Rosie (32) en hul drie kinders – Indie (4), Marley (3) en Leni (sewe maande).

In een foto hang baba Leni aan die metaalpyp en toon skynbaar indrukwekkende spierkrag terwyl pa Joe toekyk.

Besorgde volgelinge het egter die foto in die kommentaar veroordeel.

“Is dit veilig vir haar skouers en gewrigte om só aan die pyp te hang?” wou een persoon weet. “Moet dit asseblief nie aan jou baba doen nie,” het nog iemand geskryf. “Is dit ʼn normale ding om met ʼn baba te doen? Definitief nie,” skryf nog iemand.

Nog kykers wou weet of dit hoegenaamd moontlik is en het gewonder of die foto dalk met sagteware gemanipuleer is.

Ander volgelinge het egter die jong gimnas bewonder. “Daardie foto van Leni is wonderlik! Julle moet elke jaar só foto neem!” het een persoon geskryf. “Ek weet nie of ek bekommerd is of beïndruk is nie. Wat ʼn mooi gesin,” skryf nog iemand.

Joe het oënskynlik sy besluit verdedig deur ʼn soortgelyke foto op sy Instagram-stories te deel waar hy en sy twee oudste kinders ʼn ruk gelede ook van ʼn optrekpyp gehang het. Indie en Marley lyk heeltemal tevrede en glimlag langs hul pa.

Joe Wicks en sy twee kinders tydens ‘n vorige geleentheid (Foto: Joe Wicks/Instagram)

Joe en Rosie se baba Leni is in September verlede jaar gebore.

Wicks, ook bekend as The Body Coach, is ʼn Britse fiksheidsghoeroe, TV-aanbieder en sosialemediapersoonlikheid. Sy eerste resepteboek, Lean in 15: 15-minute meals was in 2015 ʼn topverkoper. Tydens die Covid-19-pandemie het hy die reeks PE with Joe op YouTube begin om kinders te help om aktief te bly. Meer as 1 miljoen kykers wêreldwyd het ingeskakel. Hy het ook al ʼn Guinness-wêreldrekord verower vir die meeste kykers vir ʼn regstreekse fiksheidsvideo toe meer as 950 000 kykers op 24 Maart 2020 ingeskakel het vir sy tweede video.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Joe Wicks (@thebodycoach)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.