Foto’s: Sprokiesagtige blompatrone, romantiese skeppings pryk op Met-gala

Van Maroela Media se gunsteling-uitrustings by vanjaar se Met Gala. (Foto‘s: Angela Weiss/Jamie McCarthy/AFP)

Die Oscars van modegeleenthede, beter bekend as die Met-gala, het Maandagaand by die Metropolitan Museum in New York plaasgevind.

Soos gewoonlik het die kreatiewe, waaghalsige en met tye uitspattige modekeuses van die wêreld se mooiste bekendes nie teleurgestel nie.

“Mode se grootste aand” vind jaarliks op die eerste Maandag in Mei plaas, en benewens die tema, wat vanjaar “The Garden of Time” was, geld geen modereëls nie.

Die tema put vanjaar inspirasie uit die Britse skrywer J.G. Ballard se gelyknamige kortverhaal van 1962 en het grotendeels vir botaniese en sprokiesagtige uitrustings gesorg.

Bekendes soos die model Gigi Hadid, Ayo Edebiri van The Bear-faam en aktrises Dove Cameron en Zendaya het eg aan die tema gebly met blommeryke, romantiese skeppings.

Zendaya, wat tans in die twee groot lokkettreffers Dune 2 en The Challengers te sien is, was vanjaar een van die Met-gala se medegashere saam met Chris Hemsworth, Jennifer Lopez en die kletsrymer Bad Bunny.

Die 27-jarige aktrise het in twee treffende uitrustings gepronk, beide met oordadige kopstukke waarvan een ʼn bos blomme nagemaak het.

Helder kleure nooit uit die mode

Die tennisster Maria Sharapova en aktrises soos Jessica Biel, Rachel Zegler en Elizabeth Debicki, bekend vir haar rol as prinses Diana in The Crown, het uitgestaan in helder skakerings van pienk, blou, groen en goud op die Met-gala se tapyt.

Sharapova se rok is na bewering deur die neon geelvan ʼn tennisbal geïnspireer.

Blink en bonkig

Geen rooitapytgeleentheid is volmaak sonder ʼn paar blink nommertjies nie.

Die Mamma Mia-aktrise Amanda Seyfried, televisiepersoonlikheid Kim Kardashian, sowel as aktrises Sarah Jessica Parker en Jennifer Lopez het in blink uitrustings gepronk.

Kardashian, wat dikwels ʼn treffer by die Met-gala is, het aanhangers vanjaar eerder koppe laat krap as draai met haar metaal-beblomde noupassende rok en truitjie deur ontwerper Maison Margiela onder die vaandel van John Galliano.

Modekenners het daarop gewys dat dié kombinasie verskil van Kardashian se vorige treffende uitrustings. Sy het in 2022 ʼn rok gedra wat Marilyn Monroe in 1962 gedra het toe sy vir pres. John F Kennedy op sy verjaardag gesing het.

Eenvoud steeds treffend

Die Oscar-wenner Nicole Kidman, Downton Abbey-aktrise Lily James en Suid-Afrikaanse sangeres Tyla het bewys dat eenvoud selfs op die Met-gala-tapyt treffend kan wees.

Tyla, wat danksy haar trefferlied “Water” byna oornag ʼn internasionale sensasie geword het, se pasgemaakte Balmain-rok het styf teen haar lyf gekleef en was eg aan die Met-gala-tema met dié dat dit die sand van ʼn uurglas verteenwoordig het.

Daar is selfs “sand” op haar skouers gestrooi en haar uitrusting is met ʼn uurglas-handsakkie afgerond.

Vreemd, vreemder, vreemdste

Demi Moore, sangeres Lana Del Rey en kletsrymer Cardi B het nie teruggehou nie en onderskeidelik groot kopstukke en oordadige slepe aan hul uitrustings gehad.

Del Rey se rok en kopstuk het herinner aan die sprokiesverhaal van Doringrosie, terwyl Cardi B se swart tullerok en kopstuk volgens haar “ʼn groot swart roos” verteenwoordig het. Sy het die bystand (en krag) van nege mense benodig om rond te beweeg.

Lana Del Rey in Alexander McQueen. (Foto: Angela Weiss/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Jessica Biel moes maar eerder bietjie bo-langs toegemaak het … daardie twee vel-lappies van haar is geen dècolletage nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.