Foto’s: Bekendes pronk in pluiskeile, pikkewynpakke by Met-gala

Kim Kardashian en Pete Davidson. (Foto: Dimitrios Kambouris/ Getty Images vir AFP)

Die Oscars van modegeleenthede, beter bekend as die Met-gala, het Maandagaand by die Metropolitan Museum in New York plaasgevind en soos gewoonlik het die kreatiewe en soms uitspattige modekeuses van die wêreld se bekendstes nie teleurgestel nie.

“Mode se grootste aand” vind jaarliks op die eerste Maandag in Mei plaas en is ʼn geldinsamelingsgeleentheid vir die Met-museum. Dié geleentheid het ook jaarliks ʼn tema waarvolgens gaste moet probeer aantrek, maar verder geld geen konvensionele modereëls nie.

Vanjaar se tema, “Gilded Glamour”, verwys na die “Gilded Age”, ʼn tydperk van vinnige ekonomiese groei in die VSA – veral in die noordelike en westelike deelstate – wat ná die Amerikaanse Burgeroorlog in die 1870’s begin het en tot 1900 geduur het.

Billie Eilish. (Foto: Dimitrios Kambouris/ Getty Images vir AFP)

Bekendes soos Sarah Jessica Parker, Lizzo en Billie Eilish het gekies om eg aan dié era se modes te wees en het gepronk in dramatiese korset-uitrustings en beblomde haarstyle.

Ander bekendes soos Khloe Kardashian, Dakota Johnson en Emma Stone het “Gatsby-era” uitrustings met blinkers, vere en lossnitrokke vir die aand gedra.

Twitter se nuwe baas en die wêreld se rykste man, Elon Musk, is gisteraand deur sy model-ma, Maye Musk, vergesel. Die miljardêr en akteurs soos Bradley Cooper en Lin-Manual Miranda het eenvoudige dog moderne pikkewynpakke gedra, terwyl die Marvel-akteur Sebastian Stan in ʼn helder pienk uitrusting op die rooi tapyt uitgestaan het.

Emma Corrin, bekend vir haar rol as ʼn jong prinses Diana in Netflix se trefferreeks The Crown, het ʼn balrok vir ʼn onderbaadjie en pluiskeil verruil.

Elon Musk en sy ma, Maye Musk. (Foto: Jamie McCarthy/AFP)

Die akteurspaar Blake Lively en Ryan Reynolds was die mede-aanbieders by die geleentheid. Lively het ʼn treffende tweekleurige koper-en-turkooisrok met bypassende operahandskoene deur Versace gedra. Die unieke ombré-skepping is deur die Amerikaanse Statue of Liberty geïnspireer.

Die realiteitstelevisiester Kim Kardashian, wat verlede jaar letterlik van kop tot toon in pikswart lap bedek was, het vanjaar weer die koppe laat draai toe sy in ʼn vleeskleur rok op die rooi tapyt verskyn het, ʼn rok wat Marilyn Monroe in 1962 gedra het toe sy vir pres. John F Kennedy op sy verjaardag gesing het.

Kardashian het haar kenmerkende donker lokke blond gekleur en het soos Monroe ook ʼn spierwit pelsjas saam met dié blink, vleeskleurrok gedra.

Die realiteitstelevisiester Kim Kardashian. (Foto: Dimitrios Kambouris/ Getty Images vir AFP)

Dit was egter nie so eenvoudig om dié kosbare item te dra nie. Kardashian moes toestemming by die Ripley’s Believe It or Not-museum in Orlando kry om die rok, wat die museum in 2016 vir $4,8 miljoen op ʼn veiling gekoop het, te leen. Tot vandag hou dié tabberd steeds die rekord as die duurste rok wat nóg op ʼn veiling verkoop is.

Omdat daar geen verstellings aan die rok gemaak mag word nie, het die 41-jarige ma van vier, wat bekend is vir haar kurwes, amper 8 kg verloor om in dié rok te pas. Boonop het sy toestemming gehad om dié rok slegs op die rooi tapyt te dra en moes sy dit daarna vir ʼn replika verruil.

Bekendes soos Kardashian se jonger suster, Kylie Jenner, en die akteur Jared Leto het ook vir meer “unieke” modes gesorg.

Jenner het ʼn prinsestyl trourok wat deur die Off-White- en Louis Vuitton-ontwerper, Virgil Abloh, ontwerp is, met kontemporêre elemente soos ʼn T-hemp en bofbalpet gedra. Jenner wou deur dié vermengde uitrusting hulde bring aan Abloh se eklektiese styl en ontwerpe. Abloh is in November verlede jaar dood.

Leto het ʼn tweeling-oomblik met die Gucci-ontwerper Alessandro Michele gehad. Die akteur en ontwerper, wat albei hul lang hare los gedra het, het identies in beige pakke en sonbrille gelyk wat aan die tweeling van die Amerikaanse rolprent The Shining herinner het.

Bronne: Vogue, Time.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ABDP ·

Ek weet nie hoe kan dit enigsins mode genoem word nie. Die een lyk slegter as die ander

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.