Waarom skend ons ons eie menseregte?

Deur Debbie van Schalkwyk

(Foto: Cyril Ramaphosa/Twitter)

Dit is maklik om vinger te wys na die regerende party van die dag en die ANC te blameer vir ons tekortkominge. Ongelukkig moet ons besef dat ons onsself in die voet skiet deur sekere pligte as burgers te versuim.

Vir beter en slegter bevind ons onsself in ʼn demokrasie. Soms beteken dit dat 51% die noodlot van die ander 49% bepaal, en ander kere beteken dit dat ons die vryheid het om ons eie bestemming te kies.

Ongeag watter kant toe die skaal hang, is ons elkeen op ʼn dieper vlak verantwoordelik vir die toestand waarin Suid-Afrika haarself bevind.

Eerstens is dit belangrik om in gedagte te hou dat die mens van natuur ʼn politieke gedierte is. Afgesien van die amptelike regeringstelsel, vind politiek plaas sonder dat dit ʼn naam of identifikasie dra. In ons huishoudings is daar reëls, in ons werksplekke is daar beleide, en in ons land is daar wette.

Ons neem daagliks deel aan politiek deur veelvuldige keuses te maak wat ʼn astronomiese invloed op ons hede en toekoms het. Om deel te neem aan verkiesings is net so groot politiese besluit soos om nie deel te neem nie. Daar is geen manier om politiek te ontsnap nie, selfs al vermy ʼn mens die onderwerp teen alle onkoste.

Hoe skend ons ons eie menseregte?

Deur nie te stem nie. Deur ʼn ander rigting te kyk wanneer die regte van ander geskend word. Deur vinnig te wees om ontsteld te raak en traag te wees om ons hande vuil te maak. Wegkyk is ook sien en stil bly is ook ʼn antwoord.

Wat sien jy? Sien jy oortredings en dink dit raak jou nie? Wat is jou antwoord? Dat jy geen aksie gaan neem nie en dus maar net die onregverdigheid rondom jou aanvaar?

Debbie van Schalkwyk (Foto: Verskaf)

ʼn Gebrek aan kennis en aksie is ons ondergang. Dit is van geen voordeel om te weet wat jou menseregte is, maar hande gevou te sit wanneer dit geskend word nie. Ongelukkig is die wanbestuur van die land soos ʼn vuil huis – die eerste dag pla dit jou, maar na ʼn maand sien jy nie eers meer die onnetheid raak nie.

As ons vir altyd gaan wag vir iemand om ons ʼn werkende sisteem met ʼn goue lepel in die mond te stop, kan ons maar net sowel in die graf in rol en vrek van die honger. Suid-Afrikaanse burgers se ontstellende houding van “dit is maar soos dit is”, is ʼn spoeg in die gesig van ieder wat bloed gesweet en gestort het vir die regte wat ons verdien.

Sou siviele burgers gevra word wat die eenvoudige proses is vir klagtes indien teen die polisie of munisipaliteit, staan die meeste met ʼn mond vol tande. Waarom weet ons nie? Omdat sommige nie genoeg omgee nie en ander onverskillig koud staan teenoor die wanorde. Hoeveel van ons is bereid om ʼn swartsak of graaf op te tel teenoor die wat bereid is om te kla? In ʼn era van toegang tot ʼn magdom gratis inligting, is onkunde en wanaksie ʼn keuse.

Voordat ons blaam plaas op ʼn minister of president wat nie eers ons naam ken nie, moet ons onsself eers vra wat ons doen om seker te maak ons menseregte word afgedwing op diegene wat voordeel daaruit trek om dit te skend. As ons al die moontlike stappe geneem het om seker te maak ons trek die meeste voordeel uit die Grondwet, is daar bitter min wat ʼn entiteit kan doen om ons teen te staan.

Die parlement is 400 mense groot en Suid-Afrika is 60 miljoen mense sterk. Daar is absoluut geen verskoning vir halfhartige insette nie. Ons almal wonder waarom niemand iets doen aan ons situasie nie, maar ons elkeen is iemand.

So waarom bevind ons onsself nie in ʼn regverdige land met ʼn skoon omgewing en sterk infrastruktuur nie? Omdat ons ons eie menseregte skend. As elke sandkorreltjie gesê het: “Ek is maar net ʼn sandkorreltjie,” en elke druppel gesê het: “Ek is maar net ʼn druppel,” sou ons nie ʼn uitgestrekte kontinent of ʼn magtige oseaan gehad het nie.

Dit is tyd vir elkeen om sy deel te doen om seker te maak dat ons gesamentlik die mas opkom.

  • Debbie van Schalkwyk is 25 jaar oud. Sy het kwalifikasies in sielkunde en kommunikasie asook ondersoekende joernalistiek voltooi. Sy is passievol oor politiek en die algehele verbetering van Suid-Afrika.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien ons in ‘n land gewoon het met net een etniese en taalgroep, almal dieselfde vlak van opvoeding gehad het, almal werk gehad het en ‘n goeie inkomste verdien het, en dieselfde waardesisteem gehandhaaf het sou ek met jou saamstem.

OW ·

Dit sou makliker gewees het as ons voldoen het aan wat Republikein in sy kommentaar skets,maar nou is dit ongelukkig nie dié geval nie.Ek stem saam met die skrywer dat meer mense moet begin oplettend raak in hulle omgewings en gemeenskappe,om te kla en aan te meld van enige probleme wat ‘n munisipaliteit raak om reg te stel,bv slaggate,waterlekke,
verstopte hoofriole,stormwaterdreine,
defektiewe straatligte ens.Indien ‘n plattelandse munisipaliteit bankrot is,moet die betrokke provinsie ingryp,deur die regte kanale te volg.Daar is altyd iemand wat kennis het van wat ookal in ‘n gemeenskap om probleme op te los.Soos die ou engelse spreekwoord sê “There are more than one way to kill a cat”

annie ·

En vir watter een van die dertig duisend partye wat gelys is moet ek stem wat die verskil gaan maak? Sê asseblief watter party vir Afrikaners omgee en iets positief sal doen om sake te beredder? Dink hard suster!

Doors ·

Die skryfster het alles baie mooi gestel MAAR ons bly in Afrika en dit verander die prentjie drasties. My munisepaleteit , Springs , was ek al by die “bestuurder ” van water voorsiening en dit is Augustus 3JAAR wat die water al in die straat afloop en niemand wil dit regmaak nie. Daar is al verskeie male gevra vir spoedwalle in ons traat waarin die grootste skool is en die gate is ook nou al mooi groot na die reens. Jufrou, wat maak jy as niks wil werk as jy voel jy het ‘ n plig teenoor jou medemens? Doors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.