Vrou verf 10 skilderye terselfdertyd

Nederlandse kunstenaar Rajacenna van Dam takel tien skilderye terselfdertyd met haar hande en voete, regstreeks by ʼn museum in Vlaardingen (3 Mei 2024) (Foto: John Thys/AFP)

Twee verfkwassies tussen haar tone, twee in haar hande en ʼn uitdrukking van uiterste konsentrasie op haar gesig: Nederlandse kunstenaar Rajacenna van Dam het 10 skilderye terselfdertyd voltooi.

Sy het ʼn ruimtevaarder, selfportret, panda en sewe ander prente geteken op 10 skilderdoeke wat op ʼn tafel, onderstebo op die vloer en op twee esels gespan is.

Dit het vir die krullebol Rajacenna sommer net as ʼn toertjie begin by partytjies toe sy verveeld was. Sedertdien het dit haar werk geword en het haar roem verwerf. Elke haal van die kwas is vooruit in haar kop uitgewerk voor sy gaan sit om met haar hande en voete te werk.

“Ek werk bietjie aan een skilderdoek, dan skuif ek na ʼn ander. My aandag is dus deurgaans verdeeld tussen die doeke,” het Rajacenna, wat linkshandig is, verduidelik.

“Ek het vyf jaar gelede met albei hande begin skilder, as ʼn uitdaging en om bietjie vinniger te werk. Ek het ontdek ek is dubbelhandig,” het die 31-jarige kunstenaar aan AFP gesê.

Toe vra ʼn joernalis haar – as ʼn grap – of sy haar voete ook kon gebruik. Sy het die uitdaging aanvaar.

Dit was sommer net “vir die pret” en ná ʼn paar flaters met kleefband tussen haar tone, het sy modelleerklei begin gebruik om die kwas tussen haar tone te hou. Dit was ʼn sukses en sy het ʼn video van haar poging op sosiale media gedeel. Sy was gou baie gewild.

Sy is nou só vaardig dat slegs sy die verskil kan raaksien in skilderye wat met haar hande gedoen is of dié wat met haar voete gedoen is.

“Daar is regtig ʼn groot verskil. Dis baie minder presies,” het sy gesê tydens ʼn tentoonstelling van haar vaardighede by ʼn museum in Vlaardingen, haar tuisdorp in die suide van Nederland.

‘Baie spesiaal’

Rajacenna was al as klein dogtertjie dol oor teken. As tiener was daar ʼn tydelike afname in haar belangstelling, maar haar passie is weer aangevuur deur ʼn Italiaanse straatkunstenaar.

Deesdae word haar video’s op sosiale media deur miljoene mense gekyk, veral wanneer sy 10 skilderye terselfdertyd takel.

“Ek raak gou verveeld, so dis lekker om vir myself ʼn uitdaging te stel. Om dit alles tegelykertyd te doen, voel soos ʼn tipe meditasie. Dit kalmeer my baie,” het sy aan AFP gesê.

Sover as wat sy weet is sy die enigste persoon wat in staat is om dit te doen.

“Maar ek hoop dat baie mense geïnspireer sal wees om nog meer dinge te doen, om vir hulself meer uitdagings te stel, om iets te doen soos om met jou voete te skilder.”

Haar skilderye word vir tussen €6 000 en €12 000 (R120 000 tot R240 000) verkoop, aldus haar pa Jaco van Dam.

“Dis ook baie spesiaal vir ons as ouers. Sy verras ons en ek weet glad nie hoe sy dit regkry nie,” het hy aan AFP gesê.

ʼn Breinskandering deur die Turks-Duitse neuroloog Onur Gunturkun het dalk die antwoord. “Dit het gewys dat haar linker- en regterkante van haar brein drie keer meer verbintenisse maak as die gemiddelde persoon,” het Jaco bygevoeg.

Gunturkun het gesê Rajacenna is “in staat om dinge te doen wat die neurowetenskap as onmoontlik beskou”.

Sy het al ʼn rits bekende aanhangers, waaronder die popster Justin Bieber, wat haar werk as “wonderlik” beskryf het toe sy ʼn portret van sy gesig aan hom geskenk het.

ʼn Paar pensioenarisse wat haar by die museum dopgehou het, het verstom gestaan.

“Dit is verstommend dat iemand dit kan doen,” het Anton van Weelden (75) gesê. “Die skilderye is boonop baie mooi en realisties.”

Hy sal egter nooit só iets probeer nie. “Ek kan nie eers só verf met my regterhand nie!” het hy geskerts.

Dié video wys hoe Rajacenna ses skilderye terselfdertyd takel:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.