‘Gangsta’s Paradise’-sanger sterf

Die kletsrymer, Coolio, het in die ouderdom van 59 gesterf. (Foto: Ethan Miller/Getty Images North America/AFP)

Die kletsrymer Coolio, wat verantwoordelik was vir die bekende treffer “Gangsta’s Paradise”, het in die ouderdom van 59 gesterf.

Sy bestuurder, Jarez Posey, het bevestig dat die sanger bewusteloos op die badkamervloer van ’n vriend se huis in Los Angeles aangetref is.

Alhoewel die rede vir sy dood nog nie amptelik bekend gemaak is nie, het Posey aan TMZ gesê dat die paramedici van mening was dat Coolio aan ’n hartaanval gesterf het.

Sy loopbaan het reeds in die 1980’s afgeskop, maar bekendheid het eers in 1995 aan sy deur kom klop met die uitreiking van “Gangsta’s Paradise”, die klankbaan van die fliek Dangerous Minds. Coolio, wie se regte naam Artis Leon Ivey Jr. was, het ook ’n Grammy vir dié treffer ingepalm.

Die liedjie word vandag steeds wêreldwyd geluister, en het onlangs die miljard-luistermerk verby gesteek.

In sy vier dekade lange loopbaan, het hy agt albums opgeneem, ’n American Music-toekenning en drie MTV Video Music-toekennings ontvang.

Van sy ander treffers sluit “Fantastic Voyage”, “Rollin’ With My Homies” en “Too Hot” in.

Medelye het sedertdien sy dood begin instroom.

“Ek is rasend, ek het pas gehoor dat my goeie vriend Coolio oorlede is,” het die kletsrymer Vanilla Ice op Twitter gedeel.

Snoop Dogg het ’n foto van hulle twee gedeel met die boodskap: “Gangsta’s Paradise. R.I.V.”

“Hierdie is hartseer nuus. Ek het eerstehands gesien hoe hy gewerk het om tot boaan die bedryf uit te kom,” het Ice Cube gedeel.

Luister na “Gansta’s Paradise” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.