Gesin gekap oor sesjarige marathon hardloop

Die Crawford-gesin ná die Flying Pig-marathon (Foto: fightfortogether/Instagram)

Ben en Kami Crawford van Bellevue in Kentucky in die VSA het onder skoot gekom ná hulle hul sesjarige seun, Rainier, toegelaat het om verlede Sondag aan die Flying Pig-marathon in Cincinnati deel te neem.

Die Crawfords het in ʼn plasing op Instagram die kritiek aangespreek wat hulle ná die 42 km lange wedloop ontvang het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle “onverantwoordelik” is en dat dit selfs neerkom op mishandeling.

“Ons gesin van agt het op 1 Mei ʼn hele 26,2 myl-marathon (42 km) voltooi,” lui die plasing. “Dit is die eerste marathon waaraan ons hele gesin deelneem. Ons vyf ouer kinders het langer as ʼn uur ná myl 25 gewag en ná 8 ure en 35 minute het ons almal saam die eindstreep oorgesteek.

Die Crawfords sê egter hulle het nooit enige van hul kinders gedwing om aan ʼn marathon deel te neem nie. “Ons gee al ons kinders die opsie vir elke wedloop. Twee van ons kinders het dit verlede jaar sonder ons gehardloop. Ná ons sesjarige vanjaar gesmeek het om by ons aan te sluit, het ons besluit om hom toe te laat om te oefen en ʼn poging aan te wend.”

Die Crawfords sê albei ouers het hom ʼn 50/50-kans gegee om die wedloop te voltooi en hulle was gereed om enige tyd te stop as hy daarvoor sou vra of as dit sou voorkom dat sy gesondheid in gevaar is.

Hulle het hom deur die loop van die wedren “verskeie kere gevra of hy wil ophou, en hy was baie duidelik daaroor dat hy kies om aan te hou”.

“Ons het nooit enige teken van hitte-uitputting of dehidrasie gesien nie en het aan sy versoek voldoen om aan te hou.”

Die Crawfords sê “daar was trane” deur die wedren, maar sê “baie mense berig foutiewelik dat mense hom vir die ‘hele wedloop’ of ‘groot gedeelte van die wedloop’ sien huil het”. “Ons het ure se beeldmateriaal en foto’s wat vrygestel sal word wat sy emosionele toestand baie duidelik sal wys.”

In reaksie op ʼn Instagram-gebruiker wat kommer uitgespreek het oor die sesjarige seuntjie, het die gesin gesê: “Hy is ses jaar oud en hy voel baie goed. Die dag ná die wedloop het hy op die trampolien gespring en gesê hy sal graag ʼn halfmarathon wil hardloop.”

Rainer met sy Pringles (Foto: fightfortogether/Instagram)

Die gesin het verder kritiek op die hals gehaal toe hulle ʼn foto van Rainier gedeel het met ʼn pak Pringles.

“Rainier het geweet dat hulle tydens die marathon by myl 20 gewoonlik Pringles uitdeel,” het die gesin by die foto geskryf. “Hy het fisies gesukkel en wou elke drie minute ʼn breek vat en sit. Ná sewe ure het ons uiteindelik by die 20ste myl aangekom, om slegs ʼn verlate tafel en leë bokse te sien. Hy het gehuil en ons het baie stadig beweeg, so ek het vir hom gesê ek sal vir hom Pringles koop as hy aanhou bly beweeg. Vandag het ek hom bederf.”

Lee Troop, Olimpiese marathon-atleet, het onlangs op Twitter sy misnoeë uitgespreek. “Wedren-organiseerders laat ʼn sesjarige toe om ʼn marathon te hardloop. Die kind stop elke drie minute en huil ná 20 myl, emosioneel baie ontsteld. Die ouers koop hom met Pringles om om klaar te maak. Die ouers sien nie die probleem nie. Alles is verkeerd hiermee!”

Kara Goucher, Olimpiese langafstand-atleet, het op Twitter gesê ‘n sesjarige het nie die begrip om te verstaan wat ‘n marathon fisies aan hulle doen nie. “‘n Sesjarige verstaan nie wat dit is om ellende aan te gryp nie. ‘n Sesjarige wat ‘fisies sukkel’, verstaan nie dat hulle die reg het om op te hou en moet ophou nie.”

Die Flying Pig-marathon het intussen die volgende verklaring uitgereik: Ons marathon beskou die veiligheid van al ons deelnemers in ʼn baie ernstige lig. Ons het verskeie versoeke ontvang vir spesiale toelatings en ons oorweeg elkeen noukeurig. Ons doel is om ʼn positiewe ervaring vir al ons deelnemers te gee terwyl ons hulle langs die pad ondersteun.”

Dit blyk egter dat Rainier se marathon-uitslae nie meer beskikbaar is nie, alhoewel sy familie se uitslae steeds op die statistieke wys.

Dit is nie die eerste keer dat die Crawford-gesin ʼn uitmergelende projek aanpak nie. Hulle was ʼn paar jaar gelede die grootste gesin wat die Appalachian-staproete (3 200 km) aangepak het. Ben Crawford het in 2020 ʼn boek vrygestel: 2 000 Miles Together: The Story of the LArgest Family to Hike the Appalachian Trail.

This was just one magical moment from the day.

Posted by Ben Crawford on Thursday, May 5, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.