Heathrow gooi wal teen magdom passasiers

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Heathrow, die lughawe aan die weste van Londen, het lugrederye gevra om voorlopig die verkope van vliegkaartjies op ys te plaas vir reisigers wat gedurende die Europese somervakansie van dié lughawe wil vertrek. Dit beteken daar sal nie meer plek beskikbaar wees op vliegtuie wat tot en met September vanaf Hearthrow vertrek nie.

Heathrow wil die getal reisigers wat daagliks van die lughawe reis tot ʼn maksimum van 100 000 mense beperk, aangesien die lughawe sukkel om voort te bly weens ʼn tekort aan personeel en ʼn toename in die vraag na vlugte, berig CNN.

Die lughawe wil die maatreël onmiddellik tot en met 11 September implementeer.

In ʼn ope brief aan kliënte skryf John Holland-Kaye, uitvoerende hoof van Heathrow: “In die afgelope weke het ons gereeld gesien dat meer as 100 000 mense daagliks vanaf Heathrow reis. Dit het veroorsaak dat die gehalte van dienslewering tot onaanvaarbare vlakke gedaal het. Hierdie is dus ʼn maatreël om te verseker dat verdere ontwrigtings nie plaasvind nie.” Hy sê die lughawe sal egter steeds baie bedrywig wees en het passasiers gevra om geduldig te wees wanneer hulle na of van die lughawe reis.

Volgens die nuuswebwerf Daily Mail sal dié besluit meer as 90 000 mense se reisplanne omvergooi.  Willie Walsh, direkteur-generaal van die internasionale vereniging vir lugvervoer (Iata), het Heathrow se besluit gekritiseer en sê die lughawe kon beter voorberei het, aangesien lugrederye lank reeds ʼn aansienlike toename in reisigers voorspel het.

Volgens Holland-Kaye was die toename in passasiers die afgelope paar weke – na afloop van die Covid-19-panemie – soortgelyk aan die toename wat die afgelope vier dekades waargeneem is. Die tekort aan opgeleide en vaardige personeel en ʼn oormag passasiers het tot gevolg gehad dat die getal vlugte wat in Junie vanjaar gekanselleer is, met 188% toegeneem het in vergelyking met Junie 2019.

Passasiers wat reeds kaartjies gekoop het om van Heathrow te reis hoef nie enige veranderings aan hul reisplanne te maak nie, tensy hul lugredery anders aandui.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Ander lughawens in Europa het dieselfde probleem: hul het al te gretig mense afgedank tydens Covid, maar nooit weer aangestel..en nou wil almal beweer die somer stormloop het hul onkant gevang.

Ek het ‘n maand gelede vir 2 ure in ‘n ry gewag op Schiphol oor daar net 1 doane beampte aan diens was, wat glo die norm is deesdae.

Martin ·

Die klomp britte op daai eiland moet maar vir hulle kry…

Koos 100 ·

Hulle moes dit by die ANC geleer het. Slaan nie ag op die nodige waarskuwings nie, en dan verander die reëls as die bom bars. Eskom, Transnet, Prasa en noem maar op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.