Herrie oor Fukushima-afvalwater kring uit

Die Japannese ambassade in Beijing. (Foto: Pedro PARDO / AFP)

Tokio het Dinsdag daarop aangedring dat China die veiligheid van Japannese burgers in sy buurland verseker nadat ’n baksteen na sy ambassade in Beijing geslinger is te midde van ’n herrie oor die vrystelling van water van die Fukushima-kernaanleg.

China het verlede week die invoer van alle seekos vanaf Japan verbied nadat dié land begin het om behandelde afvalwater uit die Fukushima-kernaanleg vry te stel. Die verbod is ingestel ten spyte daarvan dat die VN se kernwaghond die water veilig verklaar het.

Japan moedig nou sy burgers in China aan om ’n lae profiel te handhaaf en veiligheid by skole en diplomatieke kantore te verskerp.

“Dit is uiters betreurenswaardig en kommerwekkend,” het Japan se minister van buitelandse sake, Yoshimasa Hayashi, Dinsdag aan verslaggewers in Tokio gesê met verwysing na die voorval by die Japannese ambassade in Beijing.

“Ons wil weer ’n beroep op die Chinese regering doen om onmiddellik toepaslike maatreëls in te stel soos om ’n beroep op sy burgers te doen om kalm op te tree en te verhoed dat die situasie vererger, en om alle moontlike maatreëls te tref om die veiligheid van Japannese inwoners en ons diplomatieke missies in China te beskerm.”

Hayashi het ook gesê China behoort “akkurate inligting te verskaf” oor die Fukushima-watervrystelling “eerder as om mense onnodig te verontrus deur inligting sonder enige wetenskaplike grondslag te verskaf”.

’n Woordvoerder van die Japannese ambassade in Beijing het intussen aan AFP gesê die personeel is “uiters bekommerd”.

“Sommige mense het na ons [ambassade se] ingang gekom. “Hulle het hierdie soort stappe gedoen en is daarna deur gewapende polisiebeamptes weggelei.”

Wang Wenbin, woordvoerder van die Chinese departement van buitelandse sake, het Dinsdag die “sogenaamde kommer van die Japannese kant” verwerp en volgehou buitelanders in China is veilig.

“China beskerm altyd die veiligheid en wetlike regte en belange van buitelanders in China, in ooreenstemming met die wet.”

Hy het dit egter duidelik gestel dat China nie ten gunste is van die vrystelling van behandelde radio-aktiewe water uit die Fukushima-kernaanleg nie.

“Die Japannese regering het eensydig en met geweld begin met die afvoer van besmette water, wat sterk verontwaardiging onder mense van alle lande ontlok het. Dit is die hoofoorsaak van die huidige situasie.”

Japan het Donderdag begin om die ekwivalent van meer as 500 Olimpiese grootte-swembaddens se verdunde afvalwater van Fukushima in die Stille Oseaan vry te laat. Dit volg 12 jaar nadat ’n tsoenami drie reaktors in een van die wêreld se ergste atoomongelukke vernietig het.

Volgens die aanlegoperateur TEPCO word alle radioaktiewe elemente behalwe tritium, waarvan die vlakke binne veilige perke is, uitgefiltreer. Toetsuitslae van seewater- en vismonsters naby die aanleg – wat dekades sal neem om te voltooi – het dit reeds bevestig, aldus Tokio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.