Hittegolf tref Australië, nóg 2 sterf

Brandbestryders Saterdag naby Moruya in Australië. (Foto: Rick Rycroft, ANA)

Nog twee mense is Saterdag in ’n veldbrand op Kangaroo-eiland in die suide van Australië dood. Dit bring die dodetal sedert September verlede jaar toe die eerste brande uitgebreek het op 23 te staan.

Sowat 150 000 hektaar van dié eiland, Australië se derde grootste eiland en ’n gewilde toeristebestemming, het reeds afgebrand.

Die uiterste weerstoestande wat vandeesweek vir die suidooste van die land voorspel is, het dié omgewing vandag getref met die kwik wat in sommige stede tot 48 °C gestyg het en wind wat tans teen 80 km/h woed.

Die temperatuur in Penrith, wes van Sydney, het 48,9 °C bereik wat dit op die oomblik een van die warmste plek op aarde maak. In Canberra is 44 °C, die warmste temperatuur nog vir dié stad, aangeteken.

‘n Man blus Saterdag vlamme naby Moruya in Australië. (Foto: Rick Rycroft, ANA)

Die Australiese buro vir meteorologie het gesê temperature kan later vandag op albei plekke verder styg.

Scott Morrison, eerste minister van Australië, het gesê hy sal nog sowat 3 000 lede van die nasionale weermag se reserviste ontplooi om brandbestryders te help om die veldbrande te blus.

In Nieu-Suid-Wallis woed daar tans 148 veldbrande waarvan 11 die vlak van ’n noodtoestand bereik het. Dit beteken dat inwoners nie meer dié gebiede kan verlaat nie.

Meer as 50 veldbrande woed in Victoria met 13 wat die vlak van noodtoestand bereik het. Ses mense is reeds in dié staat as vermis aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.