Hollywood: Dié bekendes onthul alles in dokkies, memoires

‘n Destydse foto van Paris Hilton en Britney Spears, wat albei hierdie jaar memoires uitgereik het. (Foto: Paris Hilton/Instagram)

Van prins Harry tot Britney Spears: bekendes het nie vanjaar geskroom om beheer oor hul eie lewensverhale te neem nie.

Maroela Media bied vir jou ʼn opsomming van die bekendes wat in 2023 memoires en dokumentêre reekse oor hul lewens uitgereik het.

Britney Spears

Die popsangeres Britney Spears het in Oktober vanjaar haar langverwagte memoires, The Woman in Me, uitgereik. In dié boek onthul die 41-jarige besonderhede oor die beginjare van haar loopbaan, haar stormagtige verhouding met die sanger, Justin Timberlake, en haar 13 jaar lange voogdyskap.

Prins Harry en Meghan Markle

Die Sussex-egpaar het dié jaar die deure na hul binnekamer en familiesake opnuut vir die publiek oopgegooi.

Hul opspraakwekkende Netflix-dokumentêr, Harry & Meghan, is in Desember 2022 uitgereik, met Harry se onthullende memoires, Spare, wat in Januarie gevolg het. Hy het kort daarna ook ʼn onderhoud aan Anderson Cooper toegestaan wat later in CBS se 60 Minutes-program verskyn het.

Prins Harry se boek, “Spare”. (Foto: Hans Lucas / AFP)

Harry brei in Spare uit oor sy verhoudings met verskeie lede van die Britse koningshuis, sy grootwordjare en die verlies van sy ma op 12-jarige ouderdom. Hy onthul ook besonderhede oor opspraakwekkende gebeurtenisse in sy lewe, en wy ook ʼn groot deel van die boek aan sy vrou, Meghan Markle.

Daar is meer as 3,2 miljoen kopieë van die boek in die eerste week ná uitreiking verkoop.

Barbra Streisand

Hollywood-aktrise en sangeres, Barbra Streisand, het baie te sê oor haar 81 jaar lange lewe. So baie, dat sy maklik ʼn 970-bladsy-memoires kon neerpen.

Dié memoires, My Name Is Barbra, is ʼn openhartige vertelling van Barbra se kinderdae, tye as jong volwassene in ʼn glansryke Hollywood, en interessante loopbaan wat oor dekades strek.

Barbra Streisand in “A star is born”. (Foto: Collection Christophel/Barwood Films/First Artists/AFP)

Sy verklap in dié boek onder meer wie haar gunstelingkêrels was, wie haar verras het en wie sy nooit weer voor haar oë wil sien nie. Sy gee lesers ook ʼn blik in haar binnewêreld, en skryf selfs oor haar liefde vir kos maar haat vir kosmaak.

Pamela Anderson

Pamela Anderson, Baywatch-aktrise en model, het vanjaar nie net ʼn boek uitgereik nie, maar daar was ook ʼn onthullende dokumentêre rolprent op Netflix te sien.

Pamela Anderson by die “Diner de la Mode” mode-ete ten bate van die Franse anti-vigs-organisasie Sidaction by die Pavillon d’Armenonville in Parys, Frankryk in 2019. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Die rolprent, Pamela: A Love Story, en die boek, Love, Pamela, is in Januarie uitgereik en vertel die storie van dié model se lewe, verhoudings en ervarings. Dit vertel ook die storie oor hoe sy aanvanklik bekend geword het, hoe haar loopbaan gegroei het en hoe dit haar uiteindelik geraak het.

Paris Hilton

Paris Hilton (42) het in Maart vanjaar haar memoires, Paris: The Memoir, uitgereik. Hierin vertel sy veral hoe sy as tiener “ontvoer” is en na ʼn verbeteringskamp gestuur is. Dié kamp het na bewering sy gaste aan vreeslike mishandeling onderwerp, iets waaroor Paris deur haar volwasse lewe heen bewustheid probeer skep het.

Paris Hilton. (Foto: Xavier Collin/Image Press Agency/NurPhoto/AFP)

Dié glanspersoonlikheid is in 2021 met Carter Reum getroud en het sedertdien die ma van twee spruite, Phoenix en London, geword.

Jada Pinkett Smith

Die tonge het omtrent geklap toe Jada Pinkett Smith haar memoires, Worthy, in Oktober vanjaar uitgereik het.

In dié boek onthul sy dat sy en Will Smith, haar man van 26 jaar, reeds sewe jaar lank van bed en tafel geskei is. Alhoewel hulle nog wettiglik getroud is, leef hulle al sedert 2016 onafhanklike lewens.

Will Smith en Jada Pinkett Smith is sedert 2016 vervreemd. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Sy skryf ook in die boek oor haar verhouding met die kletsrymer, Tupac Shakur, asook haar stormagtige kinderlewe in Baltimore, VSA.

David en Victoria Beckham

Die sokkerster, David Beckham, en sy vrou, Victoria, het die wêreld verras met ʼn dokumentêre reeks oor hul liefde, lewens en loopbane.

In die vier-episode-reeks wat in Oktober vanjaar op die Netflix-stromingsplatform verskyn het, word die storie vertel van hoe dié twee Britse bekendes ontmoet en verlief geraak het.

David en Victoria Beckham. (Foto: Valery Hache/AFP)

Ander memoires

Ander bekendes wat hierdie jaar boeke oor hul lewens uitgereik het, sluit onder meer John Stamos, Kerry Washington, Elliot Page, Patrick Stewart, Laura Dern, Diane Ladd, Willie Nelson en wyle Anne Heche in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.