Hollywood: Netflix-fliek oor prins Andrew op pad, Beyoncé verras met country-lied

Rufus Sewell as prins Andrew in ‘Scoop’. (Foto: Netflix Tudum)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Klomp nuwe kykstof op pad

Aanhangers van Netflix se trefferreeks The Crown het nóg Britse koninklike kykstof om na uit te sien.

Scoop, ʼn nuwe fliek wat handel oor prins Andrew, die hertog van York, beloof om die deksel te lig op die prins se opspraakwekkende 2019-onderhoud met die BBC-nuusprogram, Newsnight.

Prins Andrew se verskyning op dié program was na bewering bedoel om die toenemende ondersoek na sy verhouding met die seksmisdadiger Jeffrey Epstein, asook bewerings dat hy met ʼn minderjarige seks gehad het, uit die weg te ruim.

Die nou bekende onderhoud met aanbieder Emily Maitlis is egter as “rampspoedig” bestempel toe dit in November 2019 uitgesaai is en het wêreldwyd opslae gemaak.

Gillian Anderson as Emily Maitlis. (Foto: Netflix Tudum)

Prins Andrew is sedertdien min gesien en is weens sy betrokkenheid by Epstein van sy militêre ererolle en koninklike beskermheerskap onthef.

ʼn Lokprent vir Scoop is vandeesweek uitgereik en wys hoe Gillian Anderson, wat Margaret Thatcher in The Crown vertolk het, die rol van Maitlis vertolk, terwyl Rufus Sewell in die prins se kontroversiële skoene klim.

Benewens Scoop is lokprente vir die langverwagte Wicked-rolprent, asook ʼn lusmaker van die derde aflewering in die Marvel-superheldreeks Deadpool, ook bekendgestel.

Waar die verskyning van Hugh Jack se Wolverine in Deadpool 3 hartlik verwelkom is, het Wicked, wat gebaseer is op die Broadway-musiekblyspel van dieselfde naam, wye kritiek van aanhangers ontlok.

Die rolprent se beligting en spesiale effekte is veral op sosiale media gekap en onder meer as “vaal, plat en swak” beskryf.

Wicked spog egter met bekendes soos Ariana Grande, Michelle Yeoh en Jonathan Bailey, bekend vir sy rol in Bridgerton, in die rolverdeling en sal in November op die grootskerm te sien wees.

Marvel het aanhangers se harte op Valentynsdag vinniger laat klop toe hy op sosiale media ʼn tekenprentplakkaat gedeel het om aan te kondig watter akteurs in die nuwe aflewering van The Fantastic Four te sien sal wees.

Pascal Pedro, Vanessa Kirby, bekend vir haar rol as prinses Margaret in die eerste twee seisoene van The Crown, Joseph Quinn van Stranger Things-faam en The Bear-ster Ebon Moss-Bachrach sal die rolle van ruimtevaarders wat spesiale kragte ontwikkel, vertolk.

Beyoncé keer terug na country-wortels

Hoewel baie oë op Taylor Swift en haar Amerikaanse voetbalspelerkêrel by vanjaar se National Football League (NFL) Superbowl was, het ʼn ander vrouemusikant ook aandag getrek.

Die Amerikaanse sanger Beyoncé het die tweede deel van haar topverkoperalbum, Renaissance, in ʼn NFL-advertensie aangekondig en onmiddellik daarna twee country-liedjies, getiteld “Texas Hold ‘Em” en “16 Carriages”, vrygestel.

Die sanger, wat in Houston, Texas, in die VSA gebore is, se keuse om haar kenmerkende RnB-styl vir country te verruil, het aanhangers klaarblyklik verbaas.

(Foto: Instagram/@beyoncé)

Die album, wat op 29 Maart verskyn, se country-styl is egter volgens kenners die sanger se manier om terug te keer na haar country-wortels.

ʼn Musiekvideo met die liriek van “Texas Hold ‘Em” het reeds meer 1,3 miljoen trefslae op YouTube.

Elton John-items binnekort op veiling

Wil jy “Crocodile Rock” soos die oorspronklike “Rocket Man”?

Christie se veilingshuis sal binnekort ʼn veiling aanbied met items ter waarde van $10 miljoen (sowat R190 miljoen) uit die Britse musiekikoon Elton John se voormalige woning in Atlanta in die VSA.

Daar word verwag dié items, wat onder meer blink stewels van 1971 en ʼn paar van sy kenmerkende sonbrille insluit, sal na raming teen tussen $5 000 (R95 000) en $10 000 (R190 000) elk verkoop word.

ʼn Yamaha-vleuelklavier, waarop die treffermaker se eie vingers gedans het, is ook vir nagenoeg $50 000 te koop.

Saltburn-akteur vind nuwe liefde

Barry Keoghan, die Ierse akteur bekend vir sy rol in die donkerkomedie Saltburn, se hart sing nou moontlik ʼn nuwe deuntjie.

E! News berig Keoghan en die Amerikaanse sangeres, Sabrina Carpenter, is na bewering in ʼn verhouding nadat paparazzi-fotograwe die bekendes onlangs saam in Los Angeles gekiek het.

Keoghan en Carpenter het in September verlede jaar tydens ʼn Paryse modeweek ontmoet en is glo sedertdien onafskeidbaar.

Keoghan en sy meisie van vier jaar, Alyson Kierans, se paadjies het verlede jaar geskei enkele maande ná die geboorte van hul eersteling, Brando.

Bronne: BBC News, E! News, Tatler, USA Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.