Holmes moet einde van maand by tronk aanmeld

Elizabeth Holmes (Foto: Justin Sullivan/Getty Images/AFP)

Elizabeth Holmes moet teen die einde van die maand by ’n tronk in Texas aanmeld om haar vonnis te begin uitdien.

Dít volg nadat Holmes, stigter van die omstrede mediese firma Theranos en een van die wêreld se eerste jong vrouemiljardêrs, haar ter elfder ure na ’n appèlhof gewend het in ’n poging om haar vonnis uit te stel terwyl haar appèlaansoek hangende is.

Holmes, ’n ma van twee, se prokureurs het die hof versoek om haar nie toe te sluit terwyl sy teen haar saak appelleer nie sodat sy haar jong kinders, wat onderskeidelik een jaar en drie maande oud is, kan versorg.

Die versoek is egter Woensdag geweier.

Die 38-jarige entrepreneur en ma van twee was veronderstel om reeds verlede maand by die tronk aan te meld nadat sy verlede jaar tot 11 jaar tronkstraf gevonnis is.

Holmes is vroeër skuldig bevind op drie aanklagte van bedrog en een van sameswering om bedrog te pleeg nadat sy pasiënte en beleggers in haar mediese firma Theranos bedrieg het.

Holmes se saak het wêreldwye aandag getrek toe dit aan die lig gekom het dat Holmes destyds beleggers oortuig het dat sy ʼn revolusionêre mediese toestel ontwikkel het. Die toestel het gewaarborg om ʼn wye reeks mediese diagnoses met net ʼn paar druppels bloed te maak. Sy het sodoende sowat $700 miljoen ingevorder.

Bronne: BBC, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ES ·

Ai Liesbet, hierdie kon eintlik baie beter vir jou uitgedraai het as jy net ‘n regte besigheid begin het met werlkike, huidig-beskikbare tegnologie, instede daarvan om stories op te maak.

Ek kan nie glo dat sy gedink het sy sou virewig hiermee kon wegkom nie.

Sandra ·

Die hof het reg opgetree. Sy het nie aan haar kinders gedink toe sy skelm was nie.

MK123 ·

Die hartseer van die saak is dat sy die kinders gekry het lank nadat haar hofsaak begin het. Sy het geweet daar is ‘n kans dat sy sal tronk toe gaan, en sy het gekies om kinders in die lewe te bring met die hoop dat die hof dan simpatie met haar sal he, en nou gaan 2 kinders sonder ‘n ma groot word.

Lourens ·

Hier by ons sou die feit dat sy jong kinders het haar ‘n vrypas gegee het. Die Yanks vat duidelik nie sulke nonsens nie.

SwartBees ·

Is alle mediese skemas nie maar almal ewe skelm nie? (Kan nie met hulle lewe nie en kan ook nie sonder hulle lewe nie).

MK123 ·

SwartBees, ek hoor wat jy se, maar hierdie vrou het doelbewus mediese verslae vervals sodat sy geld by beleggers kon kry. Een pasient vertel hoe sy in die verlede verskeie miskrame gehad het, en toe sy weer swanger word toe stuur haar dokter haar vir n Theranos toets en hierdie toets het aangedui dat haar ongebore baba besig is om te sterf en dat sy die besluit moet neem om eerder te aborteer. Gelukkig het sy vir ‘n tweede opinie gegaan, anders het sy ‘n gesonde baba ge-aborteer.

Hendrik ·

Hoewel die vraag met erns gevra word sal ek darem nie se skelm , maar wragtig die middelklas kan dit eintlik nie meer bekostig nie.
Mediesefondse sowel as mediesewereld sal moet in ag neem die ekonomiese wurggreep waarin ons vasgevang is.
Pensioenarese vind dit uiters moeilik.

Niklaas ·

Sy sal darem nie die volle 11 jaar sit nie. Appel mag dalks suksesvol wees om paar jaar af te kry. Goeie gedrag sal ook ‘n rol speel. En dan kan sy haar miljoene begin geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.