Honger beer wat huise plunder eindelik vas

Hank the Tank het die afgelope sewe maande amok in Kalifornië gemaak (Foto: Twitter)

ʼn Swart beer wat sedert 2021 by tientalle huise in die South Lake Tahoe-gebied in Kalifornië in die VSA ingebreek het op soek na kos, is aangekeer.

CNN berig dié honger beer van byna 227 kg – wat bekend staan as “Hank the Tank” – is saam met haar drie welpies gevang. Volgens natuurlewebeamptes het dié welpies onlangs in ma se voetspore begin volg en saam met haar by die huise ingevaar.

Staatsbioloë beplan om die beer en haar kroos na The Wild Animal Sanctuary in Colorado, wat oor meer as 33 000 ha strek, te neem. Dit word gedoen weens die gevaar wat sy vir die gemeenskap inhou. Die welpies sal mettertyd in die natuur vrygelaat word.

Die welpies sal moontlik na Sonoma County Wildlife Rescue, ʼn rehabilitasiefasiliteit in Pentaluma, verskuif word “in die hoop dat hulle die negatiewe gedrag wat hulle van hul ma geleer het, kan staak”.

Een van die welpies herstel tans van beserings wat waarskynlik opgedoen is nadat hy vroeër vandeesmaand deur ʼn motor getref is.

Wildbeamptes in Kalifornië hou die beer sedert 2022 met ʼn valkoog dop.

Maroela Media het vroeër berig die beer het geleer om haar grootte en krag te gebruik om by huise in te breek. Sy sou deur motorhuisdeure, vensters of voordeure breek om in die huis te kom.

CBS News berig DNS-bewyse het Hank the Tank met 21 plunderingsvoorvalle by huise verbind en sy word daarvan verdink dat sy verskeie eiendomme beskadig en by dosyne ander huise ingebreek het.

Die DNS-toetse het minstens vier “Hanks” geïdentifiseer wat verwoesting oor ʼn groot gebied tussen Noord-Kalifornië en Nevada veroorsaak het. Die owerhede het toe reeds die bere met sowat 150 voorvalle van plundering verbind, waaronder inbrake en skade wat aan meer as 30 eiendomme in verskeie dele van die streek aangerig is.

Volgens die departement van vissery en wildlewe in Kalifornië is hervestiging nie gewoonlik ʼn opsie vir konflikdiere nie. “Dit is omdat daar kommer heers dat die hervestiging van ʼn dier die konflikgedrag na ʼn ander gemeenskap sal oordra,” sê die departement.

“Gegewe die wydverspreide belangstelling in hierdie beer, en die aansienlike gevaar van ʼn ernstige voorval waarby die beer betrokke is, gebruik die departement egter ʼn alternatiewe oplossing om die beerfamilie én die mense in die South Lake Tahoe-gemeenskap te beskerm.”

Wildbeamptes in Kalifornië het in Maart vanjaar vir Hank the Tank en haar drie welpies opgespoor nadat hulle vir hulle ʼn kuil onder ʼn huis in die gebied gemaak het.

Die wildbeamptes het saam met die Nevada-departement van natuurlewe gewerk om die beer tydelik te immobiliseer en ʼn oorplaatjie, opsporingshalsband en mikroskyfie aan te heg vir identifikasie.

Hoewel sy die opsporingshalsband in Mei verloor het, het die owerhede die beer later weer opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Sjoe! G’n wonder sy is heeltyd honger nie. Sy is enorm! Ek hoop hulle kan die mamma en kleintjies suksesvol hervestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.