Kaal mans beboet wat Covid-19-regulasies oortree

Argieffoto

Twee mans van Sydney, Australië, is beboet toe hulle die stad se streng Covid-19-inperkingsregulasies oortree het deur kaal op ʼn strand te baai. Die mans het egter hul rieme styfgeloop toe hulle verdwaal het en uitgevang is.

Sydney is tans onder streng inperking nadat die Delta-variant van die koronavirus, wat aanvanklik in Indië aangeteken is, in dié stad begin versprei het. Inwoners is gemaan om vir twee weke tuis te bly.

BBC berig twee mans het Sondag kaal op die strand gelê toe hulle vir ʼn takbok geskrik het en ʼn nabygeleë bos in gevlug het. Hulle het in die bos verdwaal en moes noodgedwonge hulp soek.

Die polisie in Nieu-Suid-Wallis het ʼn helikopter gestuur om die twee mans, onderskeidelik 30 en 49 jaar oud, te soek.

Volgens ʼn polisieverklaring het die polisie die 30-jarige man naby Lady Wakehurst-rylaan in die Koninklike Nasionale Park, sowat 40 km van Sydney se middestad, opgespoor. Hy was kaal en het ʼn rugsak op sy rug gehad. Die polisie het later die ander man vanuit die helikopter opgemerk. Hy was gedeeltelik geklee.

Luidens ʼn berig in The Guardian is die mans na die St. George-polisiestasie in die stad geneem waar hulle ʼn boete van 1 000 Australiese dollar (sowat R11 000) elk opgelê is.

Mick Fuller, polisiekommissaris van Nieu-Suid-Wallis, het tydens ʼn mediakonferensie die mans as “idiote” beskryf.

“Hulle het eerstens mense se lewens in gevaar gestel deur hul huise sonder enige goeie rede te verlaat. Hulle het boonop in die nasionale park verdwaal en die polisie se tyd gemors – wat hul aandag eerder aan die pandemie moet bestee,” het Fuller gesê.

Fuller het tydens die konferensie gesê dat die polisie die afgelope naweek altesaam 44 boetes uitgereik wat verband hou met die oortreding van die afsonderingsregulasies. Hy het ook ʼn waarskuwing aan inwoners gestuur wat die regulasies verontagsaam.

CNN berig regulasies bepaal inwoners van Sydney moet tot minstens 9 Julie tuis bly. Inwoners kan slegs hul huise verlaat vir noodsaaklike redes, waaronder om werk toe te gaan, kos en kruideniersware te koop, vir mediese redes of vir buitelugoefeninge.

Die Delta-variant het die afgelope week in plekke soos Brisbane, Darwin, Perth en Sydney kop uitgesteek.

Die grootste uitbraak van die variant is in Sydney aangeteken waar 130 mense positief vir Covid-19 getoets het sedert die virus vroeër vandeesmaand by ʼn bestuurder van ʼn internasionale vlugbemanning gediagnoseer is.

Strenger maatreëls is ook in Perth, Brisbane en Darwin ingestel.

Australië het sedert die aanvang van die pandemie ʼn totaal van 30 000 positiewe Covid-19-gevalle en 91 sterftes aangeteken.

Die eerste minister van Australië, Scott Morrison, het laat Maandag ʼn vergadering van nasionale leiers belê. Dit volg nadat die regering kritiek ontvang het oor die trae spoed waarteen entstowwe toegedien word en ook oor die verbetering van die hotelkwarantynstelsel.

Daar is tot op hede byna 7,4 miljoen dosisse van entstowwe toegedien. ʼn Klein fraksie van die inwoners het in die geval van dubbeldosisentstowwe al albei toedienings gekry.

Die regering het nog nie data bekend gemaak oor hoeveel Australiërs ten volle ingeënt is nie, maar die syfer is na bewering ongeveer 5%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

modiglianigirl ·

Baie stout gestel. Ek het die raak stelling (intensioneel dubbelsinnig) óók geniet.

Danie ·

Wonder hoe groot daardie “bos” was waarin hul gespring toe hulle vir die “bok geskrik” het dat hulle nie weer op min of meer dieselfde kon uitkom nie.

modiglianigirl ·

Dis nie die bos se skuld dat hul verdwaal en boonop van mekaar geskei geraak het nie. Die polisie konstabel het met sy raak katakter beskrywing van die twee die vraag beantwoord.

MakersMark ·

Ja nee kyk kan nie met ‘n takbok kompeteer nie hul horings is gevaarlik.

Misky ·

Dankie vir die lekker lag MakersMark, skerp – ha ha ha ha

Regtigegtig ·

Om in die son te sit vir vitamin D is baie belangrik om immuniteit op te bou teen covid en hoe meer vleisies bak in die son hoe meer vitamine. Dit is net baie belangrik dat hulle hul masker ophou oor hul mond en neus.

Estelle ·

Nou wat van die kaal mans wat op 21 Junie die sonstilstand hier in SA gevier het toe hulle gaan bergklim het? Ek wonder of hulle ook beboet is. Op die foto’s was daar geen klere in sig nie, wat nog te praat van maskers!

DIABLO ·

Cele, hier sien jy nou dat bokke in Australie doen wat jy hier doen op strande. hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.