Koning Charles III hervat pligte ná kankerdiagnose

Koning Charles III by die University College Hospital Macmillan-kankersentrum in Londen (30 April 2024) (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Koning Charles III het Dinsdag glo aan medekankerpasiënte gesê dit “gaan goed” met hom. Hy het sy eerste amptelike openbare ontmoeting bygewoon sedert het met kanker gediagnoseer is.

Hy en sy vrou Camilla het pasiënte en personeel by die University College Hospital Macmillan-kankersentrum in Londen ontmoet. Hy het met pasiënte gesels wat chemoterapie ondergaan by ʼn dageenheid, insluitend die 60-jarige Asha Millen, wat beenmurgkanker het.

“Ek het gesê, ‘hoe gaan dit?’ en hy het gesê ‘dit gaan goed met my’,” het sy later aan verslaggewers gesê.

Nog ʼn pasiënt, Lesley Woodbridge (63), sê die koning was baie simpatiek en het bygevoeg: “Ek moet ook vanmiddag my behandeling ondergaan.”

Die 75-jarige Charles het in Februarie byna al sy pligte opgeskort toe hy gediagnoseer is. Hy is die vorige maand vir ʼn vergrote prostaat behandel. Die presiese aard van sy kanker is nie bekendgemaak nie, maar dokters het verlede week gesê hulle is “baie bemoedig” deur die vordering van sy behandeling as ʼn buitepasiënt en hulle is “positief” oor sy herstel.

Sy 42-jarige skoondogter Catherine, die prinses van Wallis, het in Januarie ʼn maagoperasie ondergaan en in Maart onthul dat sy ook chemoterapie ontvang. Geen besonderhede is oor haar tipe kanker bekendgemaak nie. Kate, soos wat sy algemeen bekend staan, is getroud met Charles se oudste seun en troonopvolger, prins William.

Koning Charles III en koningin Camilla by die University College Hospital Macmillan (30 April 2024) (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Dinsdag se ontmoeting was die eerste in ʼn rits beplande afsprake om bewusmaking te skep oor die belangrikheid van ʼn vroeë kankerdiagnose. Dit plaas ook die kollig op innoverende navorsing, het Buckingham-paleis gesê.

Charles, wat sy ma koningin Elizabeth II in September 2022 opgevolg het, is op 6 Mei verlede jaar amptelik gekroon.

Sy behandeling duur voort, maar sy skedule sal oor die volgende paar weke verminder word en sal onderworpe wees aan mediese raad, het ʼn woordvoerder bygevoeg.

ʼn Staatsbesoek in Junie deur keiser Naruhito en keiserin Masako van Japan is van die items op sy kalender.

David Probert, uitvoerende hoof van die hospitaal, het gesê Charles het “doelbewus ʼn poging aangewend om soveel as moontlik personeel en pasiënte te ontmoet as wat hy kon”.

Pasiënte was “verheug” om hom te sien, het hy aan Sky News gesê en hy het die besoek as “ongelooflik opbeurend” beskryf.

Charles en Kate se kankerdiagnoses het beteken die koninklike familie moes bontstaan toe albei hul openbare afsprake moes uitstel.

William het ook teruggetree om sy vrou en hul drie jong kinders te ondersteun. Daar is dus min senior koninklikes wat die skedule kan volhou.

Camilla (76) het talle van haar man se afsprake behartig. Charles se suster prinses Anne en sy jongste broer prins Edward het ook meer prominente rolle ingeneem.

Charles se grootliks vervreemde jonger seun, prins Harry, is nie meer ʼn werkende koninklike nie, maar sal na verwagting op 8 Mei in Londen wees vir die 10de herdenking van sy Invictus Games vir gestremde militêre veterane. Hy sal daarna by sy Amerikaanse vrou Meghan aansluit vir ʼn besoek aan Nigerië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.