Koningin kanselleer besoek aan klimaatberaad

Koningin Elizabeth II en Boris Johnson, die Britse eerste minister, groet gaste op die beleggingsberaad by die Windsor-kasteel in Windsor, wes van Londen, op 19 Oktober. (Foto: Alistair Grant/POOL/AFP)

Koningin Elizabeth II sal nie die COP26-klimaatveranderingsberaad in Glasgow, Skotland, bywoon nie nadat sy deur dokters aangeraai is om te rus.

Daar is al hoe meer vrae oor die gesondheid van die 95-jarige Britse koningin nadat sy toetse ondergaan en ʼn aand in die hospitaal deurgebring het, terwyl paleisamptenare gesê het sy rus net tuis.

Sy het verlede Woensdag voorlopige mediese ondersoeke ondergaan by ʼn hospitaal nadat sy ʼn besoek aan Noord-Ierland gekanselleer het.

Sy het egter Dinsdag haar openbare verpligtinge hervat deur vanuit die Windsor-kasteel via ʼn videoskakel met ambassadeurs byeen te kom.

Die Buckingham-paleis het gesê die koningin het egter “met spyt” besluit om nie die beraad by te woon nie.

Paleisamptenare het ook gesê sy sal haar toespraak deur ʼn voorafopgeneemde video aan afgevaardigdes lewer.

Die koningin sou na Skotland reis as deel van ʼn string COP26-verpligtinge vanaf 1 tot 5 November deur senior lede van die koninklike familie, onder wie prins Charles, sy vrou, Camilla, en prins William en sy vrou, Kate.

Die ander koninklikes sal egter steeds die beraad bywoon.

Die monarg wou glo graag die COP26-beraad bywoon om betekenisvolle optrede teen klimaatverandering deur deelnemende nasies teweeg te bring, en hoop haar afwesigheid sal nie deur ander as ʼn verskoning gebruik word om nie die beraad by te woon nie.

Die koningin is vroeër vandeesmaand tydens die opening van die Walliese parlement gehoor waar sy gesê het dit is “regtig irriterend” wanneer mense praat oor klimaatkwessies, maar nie tot dade oorgaan nie.

Sir Peter Westmacott, ʼn voormalige ambassadeur van die VK na die VSA, het gesê die koningin se kansellering is ʼn “slag” vir die beraad, maar het bygevoeg die kern van die praatjies behoort nie daardeur beïnvloed te word nie.

Hy het op BBC Radio 4 se Today-program gesê die koningin se teenwoordigheid sou “die kersie op die koek” gewees het, maar dit is “steeds ʼn belangrike geleentheid” vir prins Charles om saam met ander senior koninklikes te praat.

In foto’s wat Dinsdag uitgereik is, is die koningin te sien waar sy vanuit die Buckingham-paleis op kamera glimlag terwyl sy Suid-Koreaanse en Switserse ambassadeurs begroet wat met haar gesels het.

Sy het ook Dinsdagaand telefonies met Rishi Sunak, Britse minister van finansies, gesels voor sy begrotingsrede Woensdagmiddag.

Die gefotografeerde video-oproep is die eerste keer dat die koningin gesien is sedert sy ʼn beleggingsberaad by die Windsor-kasteel op die aand van 19 Oktober aangebied het.

Die Buckingham-paleis het die volgende dag gesê die monarg het “teësinnig mediese raad aanvaar om vir die volgende paar dae te rus”.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Truthful ·

Wel as ek kinders het soos die Koningin sal my hart dit nie kan hou nie

Erik ·

Moeilik om ‘n wêreld sonder haar voor te stel. Feitelik almal wat tans lewe, was bewus van haar vandat hul verstand het…

Willem ·

Mag die Almagtige Vader gee dat sy nog lank gaan heers. Sy’s ‘n merkwaardige dame met staal in haar pype. Wens sy was nog Koningin van Suid-Afrika.

Pampoen ·

Nee wat, dit sal nog lank vat voor die bloed van 27 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe vergete is. In my familie is Barend Mathys dood voor sy eerste verjaardag. So ek is nog suur vir die Ingelse. Ek wens hulle nie teenspoed toe nie, maar ek sal ook nie hoop dat hulle lank regeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.