Kosbare gesteelde juwele teruggekry

Die leë vertoonkaste in die museum in Dresden waaruit die juwele gesteel is. (Foto: Sebastian Kahnert /AFP)

Duitse wetstoepassers het Saterdag gesê hulle het “ʼn aansienlike gedeelte” van die juwele teruggevind wat in 2019 gedurende ʼn skouspelagtige rooftog uit ʼn museum gebuit is.

Die juwele dateer uit die 18de eeu en is in die Green Vault-museum in Dresden uitgestal toe rowers in November 2019 daarop toegeslaan het. Ses verdagtes is intussen aangekeer en word tans verhoor.

Duitse owerhede het Vrydag en Saterdag altesaam 31 gesteelde items in die Duitse stad Berlyn teruggevind. Gesprekke tussen die staatsaanklaer en verdediging oor die moontlikheid van ʼn skikkingsooreenkoms het volgens die polisie die deurslag in die ontdekking van die gesteelde goedere gegee.

Altesaam 21 stukke juweliersware en ander waardevolle items is die nag van die roof gesteel. Die items vorm deel van die versameling van die Saxon-heerser Augustus die Sterke en bevat meer as 4 300 diamante. Volgens versekeraars was die items ten tye van die roof minstens €113,8 miljoen (ongeveer R2,1 miljard) werd.

Die gesteelde juwele sluit in ʼn swaard met diamante in die handvatsel en ʼn skouerstuk wat die bekende Dresden-witdiamant van 49 karaat bevat. Van die items word egter steeds vermis, soos ʼn borsspeld wat aan koningin Amalie Auguste van Saxony behoort het.

Kenners sal nou die polisie se vonds bekyk om die egtheid daarvan te bepaal.

Die verdagtes was minderjarig ten tye van die roof en kan tien jaar tronkstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word. Owerhede vermoed egter dat minstens nog 40 mense by dié gewaagde rooftog betrokke kon wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.