Kyk: Weerman bid regstreeks vir dorp voor tornado tref

Skade wat aan die dorp Amory in Mississippi aangerig is, nadat ‘n tornado dit getref het. (Foto: Facebook/ Matt Laubhan)

ʼn Meteoroloog van ʼn plaaslike nuuskanaal in die Amerikaanse deelstaat Mississippi het sigbaar emosioneel geraak en hardop tot Jesus begin bid toe hy inligting oor ʼn naderende tornado tydens ʼn regstreekse uitsending ontvang het.

“Liewe Jesus, help asseblief daardie mense. Amen,” het Matt Laubhan gebid voordat hy voortgegaan het om die spesifikasies van ʼn tornado te deel wat op pad was na die dorp Amory.

Minstens 23 mense is Vrydag oor die hele Mississippi dood toe ʼn tornado verskeie dorpe in dié deelstaat getref het. Geen sterftes is egter in Amory aangeteken nie, ondanks grootskaalse verwoesting wat hier gesaai is. Die storm het laat Vrydag getref en huise, bome en ondernemings in verskeie dorpe platgevee, berig The New York Times.

Laubhan, hoofmeteoroloog vir die plaaslike nuuskanaal WTVA, het kykers ingelig oor wat om van ʼn lewensgevaarlike tornado te verwag wat in die rigting van Amory beweeg het.

“As ons kyk na 65 km/h behoort die tornado ʼn paar strate aan die westekant van Amory oor minder as twee minute te tref. Dit is ʼn lewensbedreigende tornado wat óf bitter naby aan die dorp verby gaan beweeg, óf deur die noordelike deel daarvan gaan inbeweeg,” sê hy op kamera.

“Die werklikheid is egter dat hierdie ding van rigting kan verander. So, Amory, julle moet in jul tornado-skuilplekke wees.”

Sy woorde is skaars koud of hy kry skynbaar nuwe inligting wat bevestig dat die tornado gedraai het en inderdaad die dorp gaan tref. Dit is dan wanneer hy begin bid.

Reddingswerkers oor die hele Mississippi het Saterdagoggend begin om mense uit die puin te red. Volgens BBC is meer mense waarskynlik onder die puin van ineengestorte sakeondernemings vasgekeer. Die dorp Rolling Fork in Sharkey County is skynbaar die ergste getref en volgens inligting is dit feitlik platgevee.

Kenners sê die tornado was besonder sterk en het puin meer as 9 km ver geslinger.

Kyk ‘n video van die verwoesting in Amory hier:

 

Just an awful Friday night. Prayers to the people of Mississippi where at least 23 people died from overnight tornadoes. The town of Rolling Fork was essentially destroyed. This is drone video showing the extent of tornado damage in Amory, MS. FOX Weather

Posted by FOX 13's Paul Dellegatto on Saturday, March 25, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.