Skooldrag kán bekostigbaar wees

Foto slegs ter illustrasie. (Argieffoto: Verskaf)

Deur Sarina Prinsloo

“Skoolklere is onbekostigbaar!” – dit is ʼn algemene klagte onder talle ouers wat dikwels finansieel sukkel wanneer dit tyd is om nuwe uniforms te koop vir hul vinnig-groeiende kinders.

Die mededingingskommissie het verskeie klagtes van ouers en voogde rakende die hoë koste van skooldrag en die verpligting om hierdie items by eksklusiewe verskaffers aan te koop ondersoek.

Hierdie praktyke plaas nie net ʼn finansiële las op gesinne nie, maar veroorsaak ook frustrasie weens die beperkte toegang tot koste-effektiewe alternatiewe.

Ten spyte van voortdurende bekommernisse oor die hoë kostes van skooldrag, soos deur die riglyne van die mededingingskommissie aangedui, bly dit noodsaaklik om die belangrike rol van skooldrag in die bevordering van kultuuroordrag in skole te erken. Skooldrag skep ʼn gevoel van eenheid en inklusiwiteit onder leerders, wat hulle laat voel dat hul deel is van ʼn groter skoolgemeenskap. Deur ʼn uniform te dra, word leerders daagliks herinner aan die waardes en tradisies van hul skool. Baie Afrikaanse skole se ryk tradisies is immers diep gewortel in hulle uniforms. Dit lewer ʼn beduidende bydrae tot die vestiging van ʼn sterk skoolgees en die bevordering van ʼn gevoel van verbondenheid onder die leerders.

Waarom is skooldrag beter as sosiale drag vir skole

Naas die versterking van skoolkultuur, bied skooldrag verskeie bykomende voordele oor sosiale drag:

  • Die feit dat leerders maklik identifiseerbaar is tydens skooluitstappies help om nie-leerders vinnig te onderskei en dra daarom by tot verhoogde veiligheid.
  • Skooldrag verminder die sosiale druk op leerders om aan te pas by die nuutste modegiere en beperk boeliegedrag wat spruit uit skynbare sosiale statusverskille.
  • Deur ʼn eenvormige voorkoms te bevorder, verskuif die fokus van leerders se aandag na hul akademie eerder as hulle uiterlike, wat ʼn meer toegewyde en minder afleidende leeromgewing skep.
  • Skooluniforms skep ʼn gevoel van eenheid en saamhorigheid onder leerders, wat ʼn positiewe impak het op skoolkultuur en waardes by die skool.

Voorstelle vir die bekostigbare implementering van skoolklere

(Argieffoto: Maroela Media)

Skole kan verskeie kreatiewe strategieë implementeer om skooldrag meer bekostigbaar te maak.

ʼn Doeltreffende benadering is die stigting van ʼn klerebank vir tweedehandse uniforms. Hier kan leerders gebruikte skooldrag teen verlaagde pryse aankoop of, in gevalle van werklike behoefte, gratis items ontvang. Dit kan help om die finansiële las vir gesinne te verlig en verseker dat alle leerders toegang het tot die nodige uniforms.

ʼn Ander oplossing is om die skooldrag so generies as moontlik te hou, sodat dit by verskeie verskaffers aangekoop kan word in plaas van net by een eksklusiewe verskaffer. Hierdie benadering stel ouers in staat om pryse en gehalte te vergelyk en verseker dat hulle nie beperk is tot ʼn enkele, duur verskaffingsopsie nie.

Skole kan verder ook gemeenskapsgedrewe skenkings en ruilprogramme inisieer, wat gesinne toelaat om skooldrag direk met mekaar te ruil of aan mekaar te skenk.

Skoolklere kan ook met algemeen beskikbare items gekombineer word, soos standaardkleur T-hemde of truie. Die items hoef nie noodwendig as deel van ʼn amptelike uniform ingelyf te word nie, maar soms afgewissel word met amptelike drag om koste van aankope vir ouers te verminder.

Meer voordele as nadele

Hoewel die meeste leerders daarvan hou om ʼn eie stempel van identiteit op hulle kleredrag af te druk, kan die onderlinge kompetisie vir modieuse of duur klere vinnig tot konflik of jaloesie lei. Die dra van skooldrag verminder sosiale spanning, bevorder gelykheid onder leerders, en skep ʼn veilige en herkenbare skoolomgewing. ʼn Netjiese en eenvormige voorkoms deur skooldrag bevorder ook dissipline, wat bydra tot beter akademiese prestasie en persoonlike ontwikkeling. Deur ʼn uniform te dra, leer leerders om reëls na te kom en respek te toon vir ander.

Die bevordering van bekostigbare, praktiese en netjiese skooldrag, skep ʼn omgewing waarin alle leerders die geleentheid gebied word om te floreer, vry van die afleidings en druk wat met persoonlike kleredrag gepaard gaan. Eenvormige skooldrag is daarom ʼn sleutelkomponent in die ondersteuning van ʼn positiewe en produktiewe skoolkultuur, gerig op die holistiese ontwikkeling van elke leerder.

  • Sarina Prinsloo is ʼn kommunikasiespesialis by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
  • Die artikel is met vergunning van die SOS geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Ek stem 100% saam. Almal trek elke dag dieselfde aan. Party kinders het soveel gewone klere dat hulle weke nie dieselfde klere hoef aan te trek nie. Ander het dalk net een of twee stelle gewone klere. En gewone klere werk op die ou einde van die dag soveel duurder uit. Want die skiene pas nie by die nie en die nie by daai nie ens. Ek het nog altyd vir skoolklere gestem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.