Lasbrief vir Poetin uitgereik

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Die Internasionale Strafhof het Vrydag ’n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van pres. Wladimir Poetin. Die Russiese president word van oorlogsmisdade beskuldig nadat duisende Oekraïense kinders na bewering onwettig na Rusland gedeporteer is.

’n Lasbrief is ook vir die inhegtenisneming van dié land se presidensiële kommissaris vir kinderregte, Maria Lvova-Belova, op soortgelyke aanklagte uitgereik.

Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat daar iets van die lasbriewe sal kom aangesien die Internasionale Strafhof nie by magte is om verdagtes in hegtenis te neem nie. Die hof kan boonop slegs jurisdiksie binne sy lidlande se territoriale gebied uitoefen – en Rusland is nie een van die lidlande nie.

“Rusland, net soos verskeie ander lande, erken nie die jurisdiksie van hierdie hof nie en uit ’n regsoogpunt is die beslissings van hierdie hof dus nietig,” het Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, Vrydag aan verslaggewers gesê.

Maar volgens die Internasionale Strafhof kan Poetin aanspreeklik gehou word indien hy sy voete in enige van die hof se meer as 120 lidlande sit.

Dit word beweer dat meer as 16 000 Oekraïense kinders sedert Rusland se inval in Oekraïne op 24 Februarie verlede jaar na Rusland gedeporteer is. Baie van die kinders is sedertdien in pleeghuise geplaas.

Karim Khan, aanklaer by die Internasionale Strafhof, sê die lasbriewe is “gegrond op forensiese bewyse, ondersoeke en uitlatings deur Poetin en Lvova-Belova.”

Lvova-Belova het tydens ’n ontmoeting met Poetin in middel Februarie gesê sy het ’n 15-jarige kind van die verwoeste Oekraïense hawestad Marioepol aangeneem.

Sy het ook genoem dat kinders na veiligheid geneem is en dat rehabilitasie en die nodige humanitêre bystand vir hulle gereël is.

Khan se aansoek om die lasbriewe is byna ’n maand gelede toegestaan nadat regters van die Internasionale Strafhof bevind het dat daar “redelike gronde” bestaan vir die vermoede dat Poetin vir die deportasie van Oekraïense kinders verantwoordelik is.

“’n Geskiedkundige besluit waaruit historiese aanspreeklikheid sal spruit,” het die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, op die lasbriewe gereageer.

Die Amerikaanse president Joe Biden het gesê die lasbrief is “geregverdig” en “maak ’n sterk saak uit”.

“Daar is geen twyfel daaraan dat Rusland oorlogsmisdade en gruweldade in Oekraïne pleeg nie, en ons was tot dusver duidelik daaroor dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou moet word,” het ’n woordvoerder van die Amerikaanse staatsdepartement Vrydag gesê.

Die VSA is egter nie ʼn lidland van die Internasionale Strafhof nie.

Brittanje het die besluit verwelkom, terwyl die Europese Unie aangedui het dat dit “net die begin” is.

Die Internasionale Strafhof word beskou as die laaste uitweg vir die wêreld se ergste misdade, wanneer lande nie verdagtes kan of wil vervolg nie.

Rusland ontken bewerings van oorlogsmisdade deur sy troepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.