Man wat Britse tennisster agtervolg skuldig bevind

Groot-Brittanje se Emma Raducanu (Foto: Martin Keep/AFP)

’n 35-jarige man is daaraan skuldig bevind dat hy die Britse no. 1-tennisspeler, Emma Raducanu, agtervolg het.

BBC berig Amrit Magar van Edgware, Engeland, is Vrydag in die Bromley-landdroshof in die stad skuldig bevind en sal eersdaags gevonnis word. Hy het as afleweringsbestuurder vir Amazon gewerk.

Beeldmateriaal het aangedui hoe Magar verskeie kere in Desember die 19-jarige Raducanu se huis in Suid-Londen, waar sy by haar ouers woon, besoek en dan notas, kaartjies en selfs blomme gelaat het.

By een geleentheid het Magar ’n handgetekende kaartjie by Raducanu se huis gelaat om die tennisster te vertel dat hy sowat 37 km (23 myl) van sy huis in Noordwes-Londen na haar huis gestap het. Hy het een keer ook vir haar ʼn briefie gelaat met die woorde: “Jy verdien liefde.”

The Guardian berig met Magar se laaste besoek aan die tennisster se huis vroeg in Desember het hy ʼn boom in die voortuin met Kersliggies versier en ʼn skoen wat aan Raducanu se pa behoort het, gesteel. Hy wou dit as ʼn “aandenking” gehad het.

Hy is egter deur Raducanu se pa, Ian Raducanu, uitgevang, wat hom van vorige besoeke herken en hom per motor gevolg het.

Ian het die polisie ontbied en Magar is daar en dan in hegtenis geneem.

Luidens ʼn verklaring wat in die hof voorgelees is, het Raducanu aan die polisie erken dat sy bang is om alleen uit die huis te gaan.

“Dit voel asof my vryheid van my weggeneem is. Ek kyk gedurig oor my skouer. Ek voel nie veilig in my eie huis nie, en dit is juis waar ek die veiligste moet voel,” lui die verklaring van Raducanu.

Raducanu het ook gesê sy wil na ʼn nuwe huis met beter sekuriteit verhuis omdat sy bang is die man sal terugkeer na haar ouers se huis.

Magar het in die hof erken hy is skaam om te hoor dat sy optrede Raducanu ontstel het.

Magar is op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hy nie Raducanu of haar ouers kontak of selfs hul straat besoek nie.

Raducanu, die Amerikaanse Ope-kampioen, is in Desember as BBC se sportpersoonlikheid van die jaar aangewys.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KB ·

O, hy “is skaam dat dit haar ontstel het”…Genade! Hy het geen skaamte nie. Hy is obsessief en siek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.