Manson-familie-moordenaar gou vry, sê prokureur

Leslie van Houten in Mei 1999 (Foto: Kalifornië se departement van korrektiewe dienste via Wikimedia Commons)

Leslie van Houten, wat skuldig bevind is dat sy aan twee moorde deelgeneem het as deel van kultusleier Charles Manson se slagting in 1969, sal oor ʼn paar weke op parool vrygelaat word, het haar prokureur Vrydag aan AFP gesê.

ʼn Woordvoerder vir Kalifornië-goewerneur Gavin Newsom het bevestig dat hy nie Van Houten se vrylating sal betwis nie.

Die 73-jarige Van Houten het meer as vyf dekades agter tralies spandeer toe sy, in opdrag van Manson, deelgeneem het aan twee moorde in 1969.

“Sy sal binne die volgende paar weke op parool vrygelaat word,” het prokureur Nancy Tetreault aan die AFP gesê. “Sy is natuurlik opgewonde, maar ook bly dat die harde werk wat sy aan rehabilitasie gedoen het, deur die paroolraad en hof erken word. Hulle het bevind dat sy nie tans ʼn gevaar vir openbare veiligheid is nie.”

ʼn Woordvoerder vir Newsom het gesê hy het drie keer suksesvol Van Houten se paroolaansoek teengestaan, maar sal nie ʼn vierde keer die aansoek teenstaan nie.

“Die goewerneur is teleurgesteld oor die appèlhof se besluit om Van Houten vry te laat, maar sal nie verdere stappe doen nie, aangesien ʼn verdere appèl waarskynlik nie suksesvol sal wees nie,” het Erin Mellon gesê.

“Die slagoffers se families ervaar steeds die gewelddadige impak, net soos alle ander inwoners van Kalifornië van die Manson-familie-moorde in 1969,” het Mellon bygevoeg.

Charles Manson (April 1968) (Foto: Kalifornië se departement van korrektiewe dienste en rehabilitasie via Wikimedia Commons)

Lede van die Manson-kultus het minstens nege gewelddadige moorde in Julie en Augustus 1969 gepleeg. Dit het skokgolwe reg oor suidelike Kalifornië veroorsaak.

Onder die slagoffers was Sharon Tate, ʼn aktrise en model wat getroud was met regisseur Roman Polanski.

Van Houten is skuldig bevind vir haar aandeel in die moord op Leno en Rosemary LaBianca. Die skuldigbevinding is later omgekeer en die jurie het in ʼn tweede hofsaak ʼn dooiepunt bereik. Van Houten is tydens ʼn derde hofsaak sewe jaar tot lewenslank tronkstraf opgelê.

Die paroolraad het Van Houten geskik bevind vir parool in 2016, 2017 en 2019, maar haar vrylating is in die hof gekeer.

ʼn Sielkundige evaluering van Van Houten wat as deel van haar aansoek om parool ingedien is, het bepaal dat sy ʼn “byna vlekkelose dissiplinêre rekord in die tronk” het, maar moontlik angs kan ervaar wanneer sy vrygelaat word, weens haar berugtheid.

Tetreault het gesê Van Houten sal, sodra sy vrygelaat word, “oorweeg om haar werk voort te sit as ʼn opvoedkundige studieleier”. Sy het ʼn B-graad en M-graad in die tronk verwerf.

Manson was op 1 Januarie 2017 in aanhouding by Corcoran-tronk toe hy na die Mercy-hospitaal gehaas is vir inwendige bloeding. Hy is op 19 November 2017 oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.