Marstuigie kry “Alzheimer”

Opportunity. Foto: Nasa

Opportunity. Foto: Nasa

Nasa se Opportunity-marskarretjie wat al meer as tien jaar lank op die rooi planeet rondrits, het geheueprobleme, en tegnici werk hard daaraan om die tuig se kopwerkinge weer flink te kry.

Gelukkig is dit nie die jongste Marskar, Curiosity, wat dié probleem onder lede het nie.

Opportunity, en sy susterskarretjie Spirit, is in 2004 op Mars neergelaat, en was ontwerp om net ’n paar maande te hou, en elk net ’n klein entjie te ry. Spirit het sedert 2010 nie meer gewerk nie, maar Opportunity werk steeds en het ook reeds meer as 41 kilometer afgelê.

Opportunity se rekenaarprogrammatuur is gereeld van die aarde af opgegradeer, maar toe dit ’n maand gelede weer opgegradeer is, wou van die ander programme nie meer werk nie.

Die probleem is dat Opportunity nie meer die data wat dit inneem oornag kan stoor wanneer die tuigie, wat van sonkrag afhanklik is, gaan “slaap” nie. Solank die Odyssey-tuig wat om Mars wentel, bedags binne bereik is, kan verrigtinge normaal voortgaan en data na die aarde herlei word, maar wanneer Odyssey aan die ander kant van Mars is, gaan data wat nog nie versend is nie verlore. Intussen probeer Opportunity sy data self herstel, en as dit by herhaling nie gebeur nie, gaan die tuig in sy slaapmodus. Een keer is alle kommunikasie van die aarde af met Opportunity so verbreek.

Nasa se wetenskaplikes probeer nou om Opportunity se rekenaar te kuberkraak en dan instruksies te gee om die problematiese geheuedeel heeltemal uit te skakel.

Opportunity is maar een van verskeie ruimtetuie waarvan die lewensduur verleng is na dit volgens die aanvanklike beplanning uitgedien geraak het, of tegniese probleme ondervind het. Die Kepler-ruimteteleskoop wat ondiensbaar geword het na ’n tweede balanseerwiel wat dit gerig moes hou ophou werk het, is deur unieke improvisasie weer bruikbaar gemaak. Die stabilisering word nou bewerkstellig deur die drukkrag van die sonwind, en Kepler het reeds sy eerste aardagtige eksoplaneet ontdek na dit weer begin werk het.

Die volledige berig in die Christian Science Monitor kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.