‘Mary Poppins’-aktrise sterf op 100

Glynis Johns in November 2004. (Foto: Kevin Winter/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Glynis Johns, die aktrise wat die rol van Mrs Winnifred Banks in die eerste rolprentweergawe van Mary Poppins vertolk het, is Donderdag in die ouderdom van 100 oorlede.

Volgens haar bestuurder, Mitch Clem, is die Britse aktrise by haar huis in Los Angeles in die VSA aan natuurlike oorsake dood.

“Vandag is ʼn hartseer dag vir Hollywood. Sy is omtrent die laaste van wat oorgebly het van ou Hollywood,” het Clem aan NBC News gesê.

Voordat sy in 1964 in die Disney-fliek Mary Poppins teenoor Julie Andrews, in die naamrol, gespeel het, het sy wyd lof ontvang vir haar rol in die 1960-fliek The Sundowners. Sy het vir dié fliek ʼn Oscar vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol losgeslaan.

Sy het ook ʼn Golden Globe-benoeming gekry vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol vir die 1962-fliek The Chapman Report.

Johns het ook verskyn in rolprente soos The Court Jester (1955) en While You Were Sleeping (1995), maar sy het ook ʼn sterk teenwoordigheid op die verhoog gehad.

Sy was deel van die oorspronklike rolverdeling van die 1973-musiekspel A Little Night Music, waarvoor Stephen Sondheim die liedjie “Send in the Clowns” spesifiek vir haar stem geskryf het.

Sy het ook ʼn Tony ingeoes vir haar rol in dié musiekspel.

Johns is op 5 Oktober 1923 in Suid-Afrika gebore. Haar ouers, Walliese akteurs, het hier in ‘n produksie verskyn toe sy haar opwagting gemaak het.

Johns was vier keer getroud: Eers met die akteur Anthony Forwood van 1942 tot 1948; daarna met die vlieënier David Foster van 1952 tot 1956; toe die sakeman Cecil Henderson van 1960 tot 1962 en daarna met die skrywer Elliot Arnold van 1964 tot 1980.

Bykomende bronne: E! News, BBC

Glynis Johns in 1964 in ‘Mary Poppins’. Sy het die rol van Mrs Banks vertolk. (Foto: The Walt Disney Company/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Was een van my gunsteling flieks as dogtertjie. 100 jaar oud geword. Wow! Rus in vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.