Messi die hond hou sy lyf aanbieder in Cannes

Messi het wêreldwye aandag gekry vir sy rol in Anatomy of a Fall. (Foto: X)

Messi, ster van die Oscar-bekroonde fliek Anatomy of a Fall, wat verlede jaar die topprys op die Cannes-rolprentfees gewen het, sal volgende week terugkeer as ʼn rooi tapyt- “onderhoudvoerder”.

Met ʼn spesiale 360°- mikrofoon en kamera op sy rug sal dié Skotse skaaphond met sterre onderhoude voer danksy ʼn akteur agter die skerms.

“Hy is die ster. Ek leen net my stem vir hom,” het die komediant Raphael Mezrahi gesê.

Die kort onderhoude sal op Franse TV-kanale en TikTok beskikbaar wees.

Messi het wêreldwye aandag gekry vir sy rol in Anatomy of a Fall, en het die Palm Dog-prys vir beste hondeprestasie op die Cannes-fees gewen. Daarna het sosialemediaplatforms gegons toe hy saam met rooi tapyt- sterre soos Ryan Gosling, Bradley Cooper en Billie Eilish afgeneem is.

En dié hond het toneelspel behoorlik onder die knie: in een van die tonele in Anatomy of a Fall moes hy voorgee om bedwelmd te wees en selfs te braak.

Dit het twee maande se voorbereiding gekos, het Laura Martin, sy afrigter en eienaar gesê. Messi moes onder meer leer om sy nek vreemd te posisioneer en met “sy liggaam baie slap gedra te word” om bewusteloos voor te kom.

Nagemaakte braaksel het uit ʼn buis wat onder sy bek geplaas is, gekom. “Hy het niks daarvan gehou nie,” sê Martin.

Maar Messi het beslis pret gehad tydens AFP se onlangse besoek aan sy huis.

In ruil vir stukkies wors het hy in verskillende posisies gesit: poot op die neus, doodstil, of aan die blaf vir die kamera. En dit alles terwyl hy boodskappe opneem het vir sterre soos Emma Stone, wat in Cannes in haar nuwe fliek, Kinds of Kindness, sal wees.

“Mense het vir my gesê dit sal beter wees as Messi nou in sy tuin rus.

“Maar hy ken die tuin uit sy kop. Hy is lief vir mense, hy hou daarvan om betrokke te wees,” het Martin gesê.

Martin was ʼn honde-afrigter en het toevallig in die rolprentwêreld beland. Sy het ook nooit kon droom dat dinge “só ver sou gaan nie”.

Messi, wat deur een van Martin se kinders na die sokkerspeler genoem is, is in die verlede vir rolle afgekeur omdat hy kwansuis “te mooi is” en te veel ruimte opneem.

Daar is nog ʼn akteurhond in die woonstel: Renard, ʼn piepklein “Praagse Ratter”, wat saam met Jean Dujardin (The Artist) in die Franse komedie Presidents verskyn het.

Messi bly egter die ster en Martin het laat val hy is ʼn rol in ʼn Amerikaanse draaiboek sedert sy verskyning by die Oscars aangebied – hoewel sy niks verder wou verklap nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.