Oekraïne dalk gou ‘kandidaat’ vir EU-lidmaatskap

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het reeds gewaarsku dat Rusland moontlik teen die stap weerwraak kan neem. (Foto: Sergei Supinsky/AFP)

Ministers van die Europese Unie (EU) het hul steun toegesê aan die oorloggeteisterde Oekraïne se “kandidaatstatus” om by dié groep lande aan te sluit. Dit kom kort voor ʼn beraad waarop die versoek na verwagting amptelik aanvaar sal word.

Die blok het verlede week voorgestel dat die eerste simboliese stap om Oekraïne op sy pad na EU-lidmaatskap te plaas, geneem word. Dit word beskou as ʼn sterk teken van steun terwyl Kiëf steeds die stryd teen Rusland se aanslag voortsit.

Clement Beaune, Frankryk se minister van Europese sake, het ná ʼn vergadering met sy eweknieë gesê daar was “algehele ooreenstemming” oor dié geskiedkundige stap.

EU-leiers wat Donderdag in Brussel vergader moet die stap goedkeur, maar hulle sal na verwagting instem dat Oekraïne en sy buurland Moldawië se aansoeke om kandidaatskap voortgaan.

“Daar is nie ʼn enkele land wat ʼn probleem het met die voorstel nie,” het Luxembourg se minister van buitelandse sake, Jean Asselborn, gesê. “Ons gaan groot eensgesindheid toon.”

Oekraïne en Moldawië sal wel aan bepaalde hervormings moet voldoen voordat enige formele toetredingsgesprekke kan begin.

Daar is egter toenemende steun vir die EU om die deur vir Oekraïne te open nadat die leiers van swaargewiglande soos Frankryk, Italië en Duitsland hul steun aan die aansoek gegee het. Afgevaardigdes van hierdie lande het Kiëf verlede week besoek.

Lande soos Nederland en Denemarke is egter effe meer skepties, en sê hulle sal hul steun gee mits dit duidelik is dat sekere hervorming moet plaasvind.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland was in die verlede uiters krities oor Oekraïne se jarelange behoefte om aan te sluit by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se militêre alliansie, maar het onlangs weer benadruk dat hy “niks teen” Oekraïne se planne het om ʼn EU-lid te word nie.

“Ons het niks daarteen nie. Dit is nie ʼn militêre blok nie. Dit is die reg van enige land om by ʼn ekonomiese unie aan te sluit,” het Poetin Vrydag gesê.

BBC berig sy woordvoerder, Dmitri Peskof, sê die Kremlin sal wel “groter aandag” aan die aansoek gee, omdat die EU oorweeg om sy eie verdedigingsmag te vorm.

“Die militêre, verdediging- en sekuriteitskomponente word bespreek. Uiteraard sal ons dit fyn dophou,” sê Peskof.

Pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne het op sy beurt gewaarsku dat Rusland moontlik teen die stap weerwraak kan neem.

“Ons moet natuurlik groter vyandige optrede van Rusland verwag. En nie net teen Oekraïne nie, maar ook teen ander Europese lande.”

Moskou het vantevore al gesê dat Oekraïne se aansluiting by die EU soortgelyk sal wees aan sy aansluiting by Navo. Rusland het in die verlede ook skerp gereageer op die sinspeling dat Finland en Swede – albei EU-lede – dalk ook by Navo wil aansluit. CNN berig Poetin gaan ongetwyfeld Oekraïne se warm ontvangs by ʼn instelling wat so nou met die Weste verbind word, as ʼn daad van aggressie beskou.

Volgens Rusland is sy “spesiale militêre operasie” [in Oekraïne] gedeelte genoodsaak deur Westerse oorskryding van wat hy bestempel as sy regmatige geografiese invloedsfeer.

Só verloop aansoek om EU-lidmaatskap

Dit duur jare – en selfs dekades – voor ‘n land lidmaatskap van die EU kry. (Foto: Vano Shlamov/AFP)

In die eerste plek oorweeg die Europese Kommissie, namens die EU, of die land wat wil aansluit ʼn geskikte kandidaat is. Daar word onder meer bepaal of die land ʼn bestendige en demokratiese regering het, of hy menseregte respekteer en ʼn vryemarkekonomie handhaaf. Volgens BBC moet alle lande instem dat ʼn nuwe land ʼn kandidaat kan word en indien dit gebeur, moet die land al die EU se wetgewing en regulasies aanvaar.

Die land moet ook ʼn toetredingsooreenkoms onderteken wat al die ander EU-lande moet ratifiseer.

Zelenski het die proses om aansoek vir EU-lidmaatskap vyf dae ná Rusland se inval van Oekraïne begin en het destyds gevra om dadelik ʼn lid te word. Dit is egter ʼn proses wat jare – en selfs dekades – kan duur.

Bulgarye, Roemenië en Kroasië is die jongste lande om by die EU aan te sluit en in hulle geval het die proses tussen tien en 12 jaar geduur, berig BBC.

Albanië, Noord-Masedonië, Montenegro en Serwië is al jare lank amptelike kandidate, maar hul aansoekproses het sedertdien vasgeval.

Oekraïne het reeds talle van sy wetgewing gewysig ter voorbereiding van lidmaatskap van die EU.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henri ·

““Ons het niks daarteen nie. Dit is nie ʼn militêre blok nie. Dit is die reg van enige land om by ʼn ekonomiese unie aan te sluit,” het Poetin Vrydag gesê.”
“Volgens Rusland is sy “spesiale militêre operasie” [in Oekraïne] gedeelte genoodsaak deur Westerse oorskryding van wat hy bestempel as sy regmatige geografiese invloedsfeer.”

Die teenstelling in die twee paragrawe laat my dink aan George Orwell se Animal Farm waar een van die reëls gewysig is na “alle diere is gelyk, sommige is net meer gelyk as ander”. Dit is tipies van die kommunistiese ideologie, waarvan ons regering ook groot aanhangers is.

Jaco ·

Wanneer gaan dié nonsens kommentare dat Rusland kommunisties is nou endkry? Kommunisme het einde 1991 tot ‘n einde gekom in Rusland. Toe het die kommunistiese Sowjetunie, waarvan Rusland die grootste deelstaat was, ook ontbind. Die Russiese Kommunistiese Party is ‘n opposisie party in die Russiese parlement. Dit regeer nie Rusland nie. Putin was in die KGB in die 1980’s en hy was toe kommunisties, MAAR hy het ook verander. Hy het selfs later by die Russies Ortodokse Kerk aangesluit – VER verwyder van die ateïsme wat die kommuniste verkondig. Rusland het vandag ‘n vrye kapitalistiese ekonomie wat selfs miljoenêrs oplewer. Kan maroelamedia.co.za asseblief ietsplaas oor Rusland wat nie meer kommunisties is nie?

VaalDonkie ·

Hy is nie bang nie want dis nie hy wat in die loopgrawe moet gaan sterf nie. Hy rits rond saam met Hollywood-celebs en politici.

annie ·

Mirakel, mirakel… Ons hogere akteur wat in ‘n ou Russiese stad en ‘n ou Russiese saal groot woorde spreek en eise stel. Die antie van die EU swymel en Duitsland hyg, terwyl Biden oor sy voete val om nog dollars uit te grawe vir die nar van formaat. Leuens en bedrog is Oekraïene se doopname. Kïev gaan nou Hamelen gedoop word. Luister na die die fluit se skone $note…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.