Ontsnapte gevlekte luiperd gou gevind

Nova (Foto: Dallas Zoo/Twitter)

Nova, ʼn gevlekte luiperd wat uit haar hok by ʼn dieretuin in Dallas in die VSA ontsnap het, is Vrydag ure later naby haar kamp gevind.

Alhoewel sy nie ver weggedwaal het nie, het haar avonture daartoe gelei dat die dieretuin gesluit moet word. Polisiebeamptes het ʼn soektog van stapel gestuur, ook met hommeltuie wat met infrarooikameras toegerus is om die bome te deursoek.

Die dieretuin het op Twitter gesê hy is “verheug om te laat weet” dat Nova “vanmiddag op die dieretuin se perseel gevind is”.

“Sy was baie naby aan die oorspronklike habitat. Spanne kon haar teen omstreeks 17:17 (2315 GMT) veilig aankeer.”

Personeel het Vrydagoggend ontdek Nova word vermis toe hulle die kamp besoek het wat sy met haar sussie Luna deel. Hulle het op ʼn skeur in die heining afgekom.

Harrison Edell, adjunkpresident vir diereversorging by die dieretuin in Texas, het benadruk dat gevlekte luiperds oor die algemeen “nie ʼn bedreiging inhou vir mense nie”.

“As jy ʼn kat sien wat groter is as ʼn huiskat, maar kleiner as ʼn voskat, laat weet ons asseblief,” het hy gesê.

Nova weeg tussen 9 en 11 kg, het Edell bygevoeg.

Gevlekte luiperds kom in die Himalajas en dele van suidoos-Asië en China voor. Die spesie word sedert 2008 op die IUBN-rooilys as “kwesbaar” aangedui. Daar is vermoedelik minder as 10 000 volwassenes oor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.