Oorskot in tasse: Ma van kinders dalk opgespoor

Argieffoto (Foto: Unsplash)

ʼn Vrou wat vermoedelik die ma is van die twee kinders wie se oorskot in reistasse in Auckland, Nieu-Seeland, gevind is, is in Suid-Korea opgespoor.

Volgens die polisie in Seoel, Suid-Korea, word sy moontlik met die twee kinders se dood verbind.

CNN berig die vrou, ʼn Nieu-Seelandse burger, het in 2018 in Suid-Korea aangekom en daar was geen rekord dat sy daarna die land verlaat het nie.

Volgens ʼn polisiebeampte in Seoel het die vrou, iets in haar 40’s, Koreaanse burgerskap gehad voordat sy “lank gelede” Nieu-Seelandse burgerskap verkry het.

Die amptenaar het nie die vrou se naam bekend gemaak of enige ander besonderhede oor haar gegee nie. Daar kon ook nie bevestig word of sy in Suid-Korea gebore is nie.

CBS News berig die Suid-Koreaanse polisie het die inligting aan die polisie in Nieu-Seeland oorgedra nadat hulle ʼn versoek om hulp in die ondersoek ontvang het. Die Suid-Koreaanse polisie het egter tans geen magtiging om die vrou op te spoor of haar te ondervra nie. Dit is aangesien sy ʼn Nieu-Seelandse burger is wat moontlik verbind word met ʼn misdaad wat in Nieu-Seeland gebeur het.

“Dit sal moeilik wees vir die Suid-Koreaanse polisie om haar te vervolg tensy Nieu-Seeland haar laat uitlewer, wat wel kan gebeur indien die ondersoek voortgaan tot ʼn punt waar Interpol ʼn rooi kennisgewing vir haar inhegtenisneming plaas,” lui die berig.

Die polisie in Nieu-Seeland het vroeër vandeesmaand ʼn moordondersoek van stapel gestuur nadat die kinders, vermoedelik vyf en tien jaar oud, se oorskot in reistasse gekry is wat verlede week saam met ʼn stooreenheid in Papatoetoe in die suide van Auckland opgeveil is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn gesin wat Donderdag die stooreenheid gekoop het, het die oorskot in die tasse gevind. Die polisie dink nie die gesin was by die vermeende moord betrokke nie.

Die gesin is glo hewig ontsteld oor dié grusame ontdekking en ontvang die nodige trauma-ondersteuning.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.