‘Orkaanvrou’ (105) nie te oud vir rekord

Julia Hawkins het die 100 m-wedloop net onder 1 minuut en 3 sekondes voltooi. (Foto: The National Senior Games Association/Twitter)

’n 105-jarige vrou van die Amerikaanse deelstaat Louisiana het die afgelope naweek ’n wêreldrekord opgestel as die eerste vrou én eerste Amerikaner in haar ouderdomsgroep om die 100 m-wedloop aan te durf.

Julia Hawkins – ook bekend as Hurricane Hawkins – is tans die oudste mededingende vrouenaelloper ter wêreld nadat sy die 100 m-wedloop net onder 1 minuut en 3 sekondes Saterdag by die Louisiana Senior Olimpiese Spele voltooi het.

Hawkins was 100 jaar oud toe sy vir die eerste keer aan ’n wedren deelgeneem het. Sy het tóé reeds ’n wêreldrekord in die 100+-afdeling opgestel, maar hou nou die 105+-rekord. Dié rekord het nog nooit vantevore bestaan nie.

The New York Times het vroeër berig dié bedrywige bejaarde oefen gereeld in haar tuin.

Hawkins meen die wêreldrekord is “maar ’n druppel in die emmer” wanneer dit kom by die wedren van die lewe, berig CBS News.

Hawkins het twee wêreldoorloë oorleef en was 70 jaar getroud voordat haar man, Murray, in die ouderdom van 95 oorlede is.

Bykomende bron: Canadian Running

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dries ·

So so pragtig tannie. Lang lewe is net verdiend as jy n goeie hart het.

Rooikopheks ·

Dis nou ń pragtige storie, om nog op 105jr so ń rekord op te stel, fantasties!!

Dirk Mostert ·

In die 2016 Kaapstad Marathon het ‘n tagtigjarige man voor my geeindig. Was dit Wally Hayword wat die comrades as tagtigjarige in ‘n kompeterende tyd voltooi het? Moenie ons ou toppies afskryf nie.

piet ·

Ja. Hy het op 80 die Comrades vir die laaste keer gehardloop. Onder 11-ure klaargemaak, so dit was nog die ou kwalifiserende tyd vir ‘n amptelike brons medalje. Op 79 het hy ‘n uur vinniger gehardloop so toe was hy ver binne die kwalifiserende tyd vir brons. Merkwaardig.

Racheltjie Debeer ·

Dis wonderlik, maar sê net bietjie, hoeveel ander atlete het aan die wedloop deelgeneem?

Gerhard ·

Dis goed om sulke berigte te kan sien.

Op een van die laaste MTB stage races wat ek gedoen het was daar n oom van 83 wat dit ook klaargemaak het (300 km oor 3 dae). Party mense laat my dink ouderdom is n keuse. Goeie motivering vir die jonger generasie wat al op 35 dink hulle is oud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.